Ek kies die lewe..

Vrydag 21 November 2008 het ek finaal besluit om te breek met my huwelik van sewe en twintig jaar.

Ek het James meegedeel ek gaan skei nadat hy weereens bevestig het hy gaan nie gehoor gee aan my ultimatum om sy twee jaar lange ‘vriendskap’ verhouding met Elna te beëindig nie. ‘n Keuse wat ek moes maak om myself te red van emosionele ondergang en terwille van my kinders se emosionele welstand. Vir sewe en twintig jaar het ek saam geleef met emosionele misbruik en afbreek, angs, woede, aggressie, konstante verkleinering, intimidasie, ignorering, ontkenning, weerhouding en liefdeloosheid. Ek het ‘n punt bereik waar ek moes veg vir my eie selfbehoud en gesonde verstand want my selfvertroue, sin van eiewaarde, vertroue in my eie persepsies en selfkonsep het ‘n laagte punt bereik. Ek was vir die eerste keer reg vir die amputasie, ‘n totale breek.

James se reaksie was glad nie wat ek verwag het nie. Hy het van ons bed af opgestaan, in sy kar geklim en weggery. So dis dan is dit dit, het ek gedink! Omtrent twee ure later was hy weer by die huis, het so by my in die kamer ingestap en so voor my kom staan. Ek het verwag die gesprek wat gaan volg gaan weer ‘n pleit wees om weer te probeer. Die volgende oomblik was hy hande om my nek met sy koue woorde ‘ek sal die lewe uit jou wurg!’ ek het aan sy hande gerem, gehuil maar sy krag was heeltemal te veel vir my. Ek het spikkels begin sien, my lippe sulke prikkels begin maak. Hy sou my kon doodwurg sonder dat die kinders dit sou besef want geen geluid wou my mond verlaat nie! Die volgende oomblik het hy my so wegsmyt van hom af teen die bed, omgedraai en weer weggery. Hulle sê in sulke tye flits jou lewe voor jou oë verby, dis nie waar nie! Ek het net geveg om asem te kry, om sy hande los te kry!

Die laaste spyker in ons huwelik was die dag toe Elna in ons lewe gekom het. As ek die pad so terug loop tot by 2006. Ons het by n koffiewinkeltjie naby sy werk gesit toe hy sê ‘Sien jy daardie klein fyn vroutjie wat daar loop, dis die Elna vir wie ek gaan golf lesse gee’. So het die Elna fase ons huwelik binnegeval!

Stelsel matig het ek besef ek staan buite die kring van hulle ‘vriendskap’. Moes ek toekyk hoe Elna besig was om ‘n faktor in ons huwelik te word. Ja ons was al weer daar! Stadig maar seker moes ek toekyk hoe James se obsessie met Elna toeneem. Hoe weet jy daar is n potensiele probleem opppad? Jy voel uitgesluit van sy menswees! Klein goedjies, soos hy is skielik soos n valk oor sy selfoon, gaan skielik in die aande buite om te praat op sy selfoon, die konstante sms’e wat rondvlieg, vroeg môre laat aand en daar is altyd ‘n rede daarvoor. ‘n Rede vir hulle om openlik saam te kan kuier word altyd verdoesel in ‘n goed orkestreerde verskoning.

Ons moes huis vriende word, ons braai saam, ons kamp saam – James wat nog nooit van die ongerief van kamp gehou het nie. Maar die kamp word gereël onder die dekmantel van ‘jy is mos lief vir kamp, ek doen dit ter wille van jou en kinders!’ As James moes gaan werk in die Noorde, Suide, waar ook al kan jy maar altyd weet skielik het Elna ook een of ander werk om te doen daar, die gerieflike verskoning van dan kos dit die bank net koste van een kar. Sy word deel van ons gesinslewe, as ons op vakansie gaan word sy orals ingelig waar ons trek en omgekeerd. Sy verskoning hulle is goeie vriende en hy besorg is oor sy vriende. My toenemende irritasie met haar maak James net al hoe meer verskonend om alles te regverdig wat hulle doen.

Ek het James verskeie kere gekonfronteer dat Elna is besig was om ‘n faktor in ons huwelik te word. Ons het niks meer as ‘n gesin saam gedoen as Elna-hulle nie n deel daarvan kon wees nie. Hulle was elke middag na werk saam op die golf baan, het elke naweek saam golf gespeel, alleen altyd onder die dekmantel van afrigting. As hy nie saam haar kon speel speel nie was hy haar caddy.

Dit was n rondomtalie tyd in my lewe. Seer, vernedering, woede en dan selfs tye van gelate probeer aanvaarding van die situasie het wipplank gespeel met my emosies. Ek het voluit gelewe met my masker vir die wêreld daar buite tussen my werk, ma en vrou wees maar binne-in het opgekropte emosies my stukkend gemaak.

Ek het myself verneder deur Elna te bel, gevra ons moet asseblief gaan teedrink en hierdie ding uitpraat. In haar soet sagte stemmetjie het sy my verseker daar is niks anders as vriendskap tussen hulle. Op my vraag as Gideon so ‘n vriendkap sou aanknoop of sy haar toestemming sou gegee het, was haar antwoord was dat sy my punt kan insien en dat sy met James sal praat en seker sal maak hulle verontrief my nie. So alles het van haar afgehang, ek moes so dankbaar wees!

Vir my was Elna ‘n jakkals, ‘n slu heks, n mannevreter, ‘n verleier ‘n huweliksopbreker! Stadig maar seker was die twee van hulle besig om my emosioneel af te breek. Ek het mooi gepraat, gehuil, gepleit, kwaad geword en ja lelike goed gesê vir haar, wat ongelukkig met dubbele krag terug gekom net na my toe. Sy het eenvoudig vir James ingelig en gesê sy voel seergemaak dan moes ek maar die gevolge van sy woedebuie verdra. Die keer wou net mooi niks help. Met al die ander vroue kon ek darem n breek forseer, maar Elna het geklou soos n neet!

Mense het my begin bel. Raad gegee soos ‘jy moet net een oggend terug draai, want sodra jy weg is gaan hulle saam koffie drink ! Of weet jy dat jou man en Elan ‘n verhouding het! Of in meetings sit hulle openlik en flirt met mekaar. Of James is voortdurend in Elna se kantoor. Of Jy dink James gaan kantoor toe na jy hom gegroet het, hy gaan terug na sy kar toe, het vanoggend hulle twee op die trappe in mekaar se arms betrap.’ Dalk goed bedoeld van die mense, dalk om kwaad te saai maar vir my was ‘n bose kringloop want my meer en meer opvreet het!

EK het my verneder tot ‘n vlak deur van sy sms’e te lees. Met angs moes ek sien hoe alles tussen hulle meer instens en intiem raak. Maar ek was te lafaard en te bang vir hom om hom daarmee te konfronteer. O ek het duisende gesprekke in my kop met hom en haar en selfs met Gideon gehad. Die kere wat ek hom wel gekonfronteer het daarmee was sy verskoning ‘dis jou verbeelding’ , of ‘is ons nou alweer op een van jou mal verbeelding trippies!’ Ek begin aandring op die verbreek van die ‘vriendskap’, sy woorde altyd maar net ‘oor my dooie liggaam, jy gun my nooit vriende nie’.

Hoekom het ek nie weggedraai van dit alles, totale breek gemaak nie? Ek was n duisend maal daar, reg vir oppak en loop. Tog was ek verskeurd tussen skuldgevoelens oor my kinders en my huweliksbelofte. Ek het besef ek glo al sy afbreek van ‘ Jy sal nooit op jou eie ‘n bestaan kan maak nie want sonder my is jy niks’. Sy dreigemente ‘Jy sal niks doen wat my naam skaad nie, ek sal die lewe uit jou wurg as jy dit durf waag!’ Vandag weet ek, hy het eintlik twee lewens gelei het: die mooi beeld van n suksesvolle man vir die mense daar buite, maar die skadukant want sy afbrekende geaardheid, woede, sy selfsug, daardie kant was gebêre vir my en die kinders.

My laaste ultimatum was ‘n total breek van Elna en alle bande met hulle as gesin, en ons gaan sien ‘n berader waarop sy antwoord ‘n beslisde nee was. Toe het ek geweet ek is reg vir die mes, ek kies die lewe!

As deel van my gesond word het ek die volgende afskeidsbriefies vir ons huwelik se begrafnis geskryf:

James jy het my soveel keer beledig, verneder en seer gemaak. Jy het my uitgekryt as mal of van my kop af. Afbrekende woorde wat sulke diep seer wonde gelaat het dat ek soms gewonder het of ek nie ook dalk soos ‘n brandwond pasient lyk nie, vol letsels. Woorde wat jy altyd so kon verdraai om jou te pas, vandag besef ek jy is die een wat ‘siek’ was en ek al die jare die sterkere een! Ek houvas aan die belofte van die Vader dat Hy ook vir jou sondes gesterf het aan die Kruis, en sal ek bly bid dat jy tot bekering sal kom en opregte vergifnis sal vra voor die Here.

Elna jy was die oorsaak dat ek op n dag vir James kon sê, nou kies jy tussen my of Elna. Nou ja soos jy weet het hy jou gekies. Hy kon nie met jou breek, hy was eenvoudig nie bereid om julle vriendskap te breek ter wille van my nie. Tog ek het geweet na twee jaar van baklei, huil, en pleit met julle en ter wille van my eie selfbehoud moes ek ‘n keuse maak. Ek kies die lewe! Ek was woedend vir jou, het jou eintlik gehaat by tye, want jy kon bly in jou kokon van veiligheid, met Gideon aan die eenkant en die opsessiewe beskermende omgee van James aan die ander kant. Jy het van jou kant af nooit enige pogings aangewend om hierdie verhouding te stop nie. Vir my was jou skynheiligheid die ergste, jou valsheid! Elna ek sal nooit enige respek vir jou hê nie. Ek vergewe jou vir al die seer en vernedering wat jy my veroorsaak het. Ek weet vandag dat ek jou nie langer in my lewe en gedagtes n plek gaan gee nie, jy het geen houvas op my meer nie.

Gideon vir jou was soms jammer maar net so baie kwaad omdat ek geglo het jy het niks gedoen om hulle te stop en te konfronteer nie. Maar ek glo jy het ook maar jou eie pakkie gedra. Ek vergewe jou dat jy nooit teen hulle opgetree het nie.

Die bevryding hieraan is my besef dat die Here vir ons almal se sondes aan die kruis gesterf het. My vergifnis aan hulle het my weer in beheer van my eie lewe geplaas en het ek die dolebewuste keurse gemaak om nie die slagoffer van my omstandighede te bly nie. Ek het die lewe gekies!

Hebreërs 12: 15 Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Wanneer jy niks doen om iemand te vergewe nie, word dit ‘n siek plant wat jou lewe versuur. ‘n Wortel van bitterheid groei ondertoe en ‘n loot van onaangenaamheid groei boontoe.

One thought on “Ek kies die lewe..

  1. Ek kan jou frustrasie en magteloosheid verstaan. Onthou jy is net menslik en het baklei vir jou huwelik. Dan gaan mens oor en gryp na al die laaste grashalms en probeer nog ‘n laaste keer. Jy het tenminste probeer, dit moet jy ook net onthou. Maar ek dink dit was die beste keuse wat jy kon doen. Al was daar pyn en verwyte. Elke mens kan ook net soveel vat, dan moet jy besef dis tyd vir aanstap en jy kom nou eerste.

    Like

Leave a comment