Vergifnis, Vertroue en Versoening..

Liefste Rykie..

Ek weet een van jou groot vrae gaan oor vergifnis aan jou pa. Ek sien jou seer, woede en soms die verbittering wat in ‘n onbewaakte oomblik deurskeumer. Ek weet dis moeilik want ons is bang as ons vergewe gaan geregtigheid nooit geskied. En buitendien hoe kan ‘n mens hom ooit weer vertrou?

Net nou die dag het iemand die vraag gevra ‘Is vergifnis en vertroue iewers gekoppel? En beteken my vergifnis dat daardie vertroue ook herstel is?’

Nee Rykie ek dink juis ons verwar vergifnis met vertroue. Die Skrif sê vergifnis moet onvoorwaardelik wees, jy moet dit in jou hart voel maar vertroue moet verdien word.

As ek jou op my paadjie terugvat, sal jy sien dat ek die afgelope paar jare paar keer die pad van vergifnis moes loop. Ek kon ‘n punt van vergifnis bereik maar ek kon jou pa nooit weer vertrou nie.. Dit het my soms laat skuldig voel want ek het geglo dis omdat ek nie regtig vergewe het nie. Maar ek besef nou dis omdat ek vergifnis verwar het met vertroue. Ek het seergekry, verraai gevoel; emosioneel mishandel en so baie ontrou ervaar dat ek soms gevoel het ek bly vergewe maar pa het nooit berou getoon of kon nooit eers ‘n jammer oor sy mond kry nie. Ek moes ‘n lang genesing loop om te besef vergifnis is ‘n proses en dat vertroue eers kan begin herstel as die ander persoon berou toon. Ja ek moes leer vertroue word verdien as jy opregte berou vra en beleidenis het.

Ek onthou die raad van ‘n Pastoor aan my net na jou pa se eerste huweliksontrou geval ‘Ja dis waar James het jou vertroue geskend . Bied hom jou vergifnis vrylik en onvoorwaardelik aan ,maar bied jou vertrou stadig aan’. Ek was in ‘n baie kwesbare toestand, al wat ek begeer het was om alles terug te hê soos dit voor al hierdie seer. Ek wou my lewe terug hê soos was voor al die verneuk, die emosionele afbreek en wantroue. Maar heelaas moes ek besef gesond word geskied met tyd en baie gebed en tonne geduld.

Ek moes teenoor myself erken, my hart was gebroke en seer. Vanweë my seer het ek gereageer met intense hartseer, pyn, woede en ja soms het ek net so seer probeer maak veral met woorde. As ek net dink aan die tyd net nadat jy met my kom praat het oor jou molestering, hoe ongelooflik kwaad en hartseer ek was. Maar terwille van die proses het ek my woede en emosies onderdruk. Tog was dit juis in hierdie tyd wat ek gedurig die beeld van Jesus aan die Kruis gesien het. Hoeveel keer is ek nie herinner daaraan dat die Bybel sê dat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe nie. Hoeveel heer het ek nie gehuil by die Here dat ek nie jou pa se onvergeeflik groot sonde teenoor jou kon vergewe nie maar ek is keer op keer daaraan herinner dat ‘Jy kan vergewe as jy self ervaar wat dit is om vergewe te word, soos wat die Vader ons keer op keer vergewe’.

Ryke onthou net Vergifnis is NIE..

  • Om te ontken wat met jou gebeur het nie. Erken wat met jou gebeur het Rykie, wees eerlik oor jouself. Onthou Jy was die slagoffer van sy onverantwoordelike daad maar JY moet verantwoordelikheid vat vir jou seer. Omhels die seer en maak dit deel van jouself.
  • Om jou woede te onderdruk nie. Gee die woede ‘n naam en eerlik met jouself oor wat met jou gebeur het. Noem dit wat dit was en praat daaroor.
  • Om te vergeet wat met jou gebeur het nie. So baie hoor jy iemand sê ‘ek sal jou vergewe maar vergeet nooit’. Desmond Tutu het gesê ‘Vergifnis gaan nie daaroor om te vergeet van die verlede, maar om die verlede te onthou sonder dat jou gevange hou in sy greep.’ Rykie vergifnis stel jou vry!
  • Om te verskoon nie. Rykie as ek ‘n voorbeeld kan gebruik om dit te verduidelik. As jy jou vererg en jou kamer deur toeklap kan ek verskoon maar jy verskoon NIE ‘n onreg nie want geregtigheid moet geskied. Daar is blaam maar plaas die blaam waar dit hoort, by die oortreder NIE by jou nie.
  • Om jou regte prys te gee nie. Rykie jy moet erken dat daar ‘n onreg aan jou gedoen was en dat geregtigheid moet geskied. So, om dit te ontken en alles net so te los is NIE vergifnis nie!
  • ‘n Uitnodiging vir herhaling van die oortredings nie. Met ander woorde Jou vergifnis is nie ‘n uitnodigning om dit weer en weer te doen nie. Dit vra vir opregte eerlikheid.

Rykie onthou genesing kom deur te vergewe. Ja vergewing is nie maklik nie, nee jy voel dit voorwaar aan jou lyf. Vergifnis is ‘n lang proses waar jy soms gaan voel jy gee twee tree vorentoe en drie terug. Dit vat soms jare en daar is geen kits oplossing. Net baie ure in gebed. Vergifnis beteken om hierdie boek van onreg toe te maak. Maak vandag die doelbewuste keuse dat hierdie saak nie meer jou lewe en aksie gaan bepaal nie. Vergewe deur dit weg te gooi, maak jou self los! Let it go! Vergifnis sal jou weer met tyd die mens in jou pa laat raak sien, waar jy nou net jou seer sien as jy hom sien. Vergifnis gaan jou gesindheid verander en jy sal weer ‘n stadium bereik waar jy jou pa net die beste kan toewens, maar dit sal dalk jare vat, dis nie oornag nie

Rykie vergifnis bring die heling van vergeet. So ‘n spesiale vergeet, soos om deur ‘n foto album te blaai en weer die fotos van die verlede te sien sonder om dit te wil opskeur, sonder om daai seer te voel. Ja jy sal nog daaraan dink maar dan sal dit nie meer met seer daarmee saam wees nie. Ja Rykie jy sal nie meer n gevange daarvan wees nie!

So Rykie hoekom moet ons vergewe? 2 Kor 5:18 sê Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Groot woorde ne! Maar wat is dan die verskil tussen vergifnis en versoening dan? Daar is paar duidelike riglyne wat ek geleer is tydens my kursus in trauma berading geleer het. Die verskil tussen vergifnis en versoening is juis dat:

  • vergifnis een persoon neem maar versoening vra twee persone
  • Vergifnis Gebeur in die hart van die gewonde maar versoening gebeur in verhouding tussen twee mense
  • Vergifnies beteken jy kan iemand vergewe wat nooit sê hy is jammer nie maar versoening KAN NIE gebeur sonder berou nie
  • Vergifnis sê ek kan vergewe al vertrou ek nie weer die persoon nie maar versoening KAN slegs gebeur indien vertroue herstel word.
  • Vergifnis is Onvoorwaardelik, Jy kan ongeag van jou omstandighede jou pa onvoorwaardlik vergewe al toon hy GEEN insig of berou maar verversoening vereis defnitiewe voorwaardes soos berou, beleidenis en ja die herstel van vertroue

Rykie my engelkind daarom, ons vergewe omdat onsself vergewe is deur God. Vergifnis lê nie in ons nie, maar in God. Net soos die kruis die voorbeeld is van Sy vergifnis , moet dit ons herinner en moet ons altyd bereid wees om te kan vergewe. Vergifnis begeer herstel.

Baie liefde

Ma