Wees dapper en breek die kettings van stilswye..

Oktober 2010

Ek was uitgenooi om by die skool te gaan praat. ‘n Handjie vol onderwysers en groep kinders wat deur my dogter uit gesoek is. Die onderwysers wat my hand moet vat in hierdie krisis insinking in haar skolastiese werk.  Haar maats om te verstaan hoekom hulle laggende en gewilde maat skielik dae aaneen in trane is.

My Rykie kind se emosionele onstabiliteit het ‘n krisis laagtepunt bereik. Skielik het my oënskynlike vasberade, doelgerigte kind verander na ‘n beangste kind, met vrese vir alleen wees en donkerte. Sy kon nie sê hoe of wat sy voel nie. Skielik moes sy haar jare lange geheim uithaal en met ander daaroor praat. Dit tesame met vrae van ‘Rykie wat gaan aan?’ het my kind begin onder kry. Dit alles het soveel druk op haar geplaas wat sy eenvoudig nie kon hanteer. Ek was reg vir die nou gereelde dringende oproep van die skool af ‘Rykie het ‘n geweldige migraine aanval of Rykie het ‘n paniek aanval’.

Sy was skielik soos ‘n skilpad sonder sy dop, broos vir die hele wêreld om haar heen. My kind wat gewoond was om alleen oorsee te reis vir’ n byeenkoms was nou skielik hierdie bang kind met geen of min waagmoed. Tussen mense was sy heeltemal op haar gemak tot die oomblik wat sy die kamerdeur agter haar toetrek en sy alleen is. Soos dit donker raak om haar begin angsaanvalle haar teister. Self om net haar kamer te deel met iemand onbekend het haar beangs en verwilderd gelaat. Haar uitermatige skuldgevoelens het gemaak dat sy vir alles skuldig voel, soos vir my emosies, as iets by die skool skeefloop of sou haar broers sou stry.

Wat sê jy vir ‘n klomp jong dogters met hulle eie drome en ideale, wat nog glo in die liefde en dat grootmense jou beskerm en nie seermaak nie. Hoe sê jy vir hulle my mooi dogter is misbruik, gemolesteer. Hoe praat jy met mense wat ondanks hul mooi woorde voor jou hul dade agter jou mekaar total weerspreek?

Met my arms so beskermend om Rykie was my woorde ‘ek het die slegte taak vandag om julle mee te deel dat Rykie vir jare al gemolesteer word. Sy het eers onlangs die moed gehad om met my daaroor te kom praat’. Rykie het vreeslik begin huil, van haar naaste vriendinne het ‘n beskermende kringetjie om haar gemaak. Hier en daar was die harde snik van ‘n maat hoorbaar, sodat ek myself met moeite bymekaar kon hou!

Liewe maats,

Julle moet onthou die Rykie voor julle vandag, is nog steeds dieselfde Rykie as gister. Sy kan nog net so lekker lag, so onnutsig wees soos tevore, sy is nog net so harde en toegewyde sportster en ja sy gee nog net soveel om vir elkeen van julle wat sy met die hand uitgesoek het om hier te wees vandag. Al wat nou bygekom het is ‘n Rykie wat ons toegelaat het in haar seer en pyn. Nou het sy julle liefde en omgee nodig om weer te kan glo in haarself. Omarm haar in julle omgee, help haar om hierdie seer om te verwerk en laat haar voel sy word nog deur julle aanvaar. Daar gaan baie afdae wees, dalk nog net so baie trane, so wees soms maar net die stilte langs haar wat sy nou so nodig het.

Ek weet by baie van ons is die vraag ‘hoe ondersteun ek, wat moet ek sê of nie sê nie?’

Ek het ook nie altyd ‘n antwoord nie, maar wil tog so paar riglyne gee van wat sy nou nodig het van julle:

  • Praat, luister, respekteer en wees emosioneel vir haar beskikbaar.
  • Aanvaar wat sy vir jou vertel.
  • Aanvaar die feit dat die aanranding en misbruik gebeur het.
  • Verstaan ​​dat dit nie haar haar was skuld was nie
  • Luister so sonder om te oordeel.
  • Laat haar praat as sy daaroor wil praat, jy kan net luister

As jy geroepe voel daartoe, verseker vir Rykie dat jy beskikbaar sal wees om haar te ondersteun. Want sy sal dalk met jou wil praat in vertrou, so toon die nodige respek en wees haar vertroue waardig. Ja soms is net ‘n stil sit saam met haar nodig , sit en luister laat haar praat sonder raad. Huil saam met haar, gedeelte smart maak soveel ligter. Meer nog gee haar tyd om te genees. Wees geduldig met haar en verstaan ​​dat sy soms irrasioneel gaan optree. Onthou baie dinge maak nog nie vir haarself sin nie. Neem soms die inisiatief om sommer net met haar te gesels veral as jy kan sien, vandag trek Rykie swaar. ‘n Verdwaalde drukkie mag net wees wat sy soms nodig het. Wees ferm met haar as jy reken dis nodig, dit laat haar geborge voel.

Elkeen van julle meisiekinders hier is baie spesiaal vir Jesus, Hy alleen ken jou hart, jou behoeftes en ja dalk steek jy ook vandag n seer weg vir jou maats en geliefdes.

Dalk is jy in ‘n verhouding waar jy weet jy word misbruik of selfs mishandel maar jy is te bang om verwerp te word. Wees braaf en sê nee en stap uit. Gaan praat met iemand! Dalk gaan jy uit met hierdie skool hunk wat jou gedurig afpers met ‘as jy vir my lief is vir my sal jy…! Wees braaf en sê nee en stap uit hierdie afbrekende verhouding. ‘n Ware vriend moet jou met respek kan behandel en jou soos ‘n prinses laat voel wat jy is.

Hoor vandag my pleit, Praat! Gebruik jou stem en sê NEE! Gaan vannaand en praat met ‘n person wat jy vertrou. Ons kan net help as julle praat!

Ek sluit af met die volgende aan elkeen van julle , die lewe bestaan uit keuses, elkeen met ‘n gevolg. Sommige met ‘n groot rimpeling! Tree soms net een tree terug, bid oor jou besluit en kies wys.’