Luister met n fyn oor…

Die donkerte en stilte van die lang nagte word my geselskap.

Dit word die tyd wat ek toegee aan die diepe smart in my, eindelose gesprekke met myself. Baie eenman gesprekke waarin ek kan sê wat ek voel sonder om iemand te na te kom. Wat ek toegee aan kommer en vrees vir die toekoms, my finansies en onmag van my omstandighede. Lang gesprekke met die Here.

Ek onthou insidente en wonder was dit dalk een van die tekens?

Ek onthou van nagte wat ek sou wakker word en James nie in bed was nie. Maar omdat hy ‘n ‘slegte slaper’ was het hy dan altyd gaan TV kyk in die sitkamer. Dan wonder ek, was dit nie dalk sy rondloop tyd nie? Hoekom het ek nooit opgestaan en gaan kyk, net omgedraai en verder geslaap?

Ek onthou van uitbarsting van woede, kwaad en baie onderhandeling van Rykie om by maats te kan gaan slaap wanneer ek moes reis vir my werk.

Ek onthou van my mooi dogter wat altyd volgens my alreeds n onstuimige tiener was op laerskool. Want ek altyd gesê het sy was ‘n tiener lank voor sy dertien was. Altyd het ek geterg en gesê ten minste in die Hoërskool gaan sy n ‘walk in the park’ opregte tiener wees. Het ek maar geweet!

Ek onthou n spesifieke insident in Maart 2009. Ek was vir n kursus in Pretoria en het net ingeboek in die hotel toe my foon lui, Rykie! My dogter het nog golf gespeel toe ek die middag moes vlieg. Alles was gereel dat hulle die week by hulle pa sou bly. Sy was huilend en histeries ‘ek sal nie by pa bly die week’. Ek het probeer paai en wou weet of daar iets gebeur het.

Ek was nou al gewoond aan die uitbarsting en tirade ‘ek sal nie by die huis bly as ma weggaan nie.’ ‘Pa het my hard op my been geslaan omdat ek n vriendin by my gehad het na golf’. Dit beteken hy moes n ekstra draai ry om haar ook te gaan aflaai. Rykie het gesê ‘ek het klaar gereel ek slaap by my vriendin die week en die tannie is oppad om my te kom oplaai’. Op my vraag waar haar pa dan is het sy net geanwoord hy het eers gery sodat sy kan klaar pak.

Op my antwoord ‘Rykie jy weet ek hou daarvan om te weet waar julle is as ek weg is van die huis en dat julle veilig sal wees’. Haar woorde ‘ek sou eerder by my broers gebly het die week’. Op my antwoord ‘Rykie wie sal jou skool toe vat, vir julle kosmaak. Moet nou nie moedwillig wees nie’ was haar koppige antwoord ‘ek sal nie, julle kan my nie dwing nie’. Ek magteloos ver, my hande afgekap, afstand my vyand. Hoe oortuig ek n koppige tiener oor n afstand veral ek omdat ek weet James gaan woedend wees.

Die volgende verwagte oproep was van n woedende James op te hoor of ek bewus was van Rykie se reeling, want sy was toe tog wel reeds weg saam met die vriendin toe hy by my huis opdaag. Op my antwoord nee het hy net gese hy gee my n uur dan het ek my kind by hom. Hallo ek sit n duisend kilometers ver weg! Weer ek Rykie gebel en probeer oortuig om huis toe te gaan. James se volgende bel was om te sê ek het n uur tyd om sy kind by hom te hê anders maak n klag van kinderontvoering teen my vriendin. Op my vraag nou ‘hoe wil jy hê moet ek dit doen’was sy antwoord net ‘dis jou probleem’.

Einde te laaste my vriendin gebel en gevra sy moet tog maar met Rykie praat en oortuig, dat ek haar broer gestuur het om te kom help paai. Ek het haar ingelig van James se dreigement met die polisie en verskoning gevra vir James se ongeskikte maniere. My seun kon haar op die ou end oortuig om te gaan. Dit was deurgaans die trend, hierdie verwoede baklei en op die ouend n gelate aanvaarding.

Soos ek hier skryf, loop trane oor my wange en my hart van pyn want vandag weet ek dit was een van my mooi dogter se hulpkrete om nie na die leeukuil gestuur te word nie. Het ek maar geweet! Het ek maar geweet! Hoekom, hoekom het ek nie meer vrae gevra nie, O Here hoekom het sy nooit reguit gesê hoekom sy nie wou gaan nie! Daar was soveel kans om te praat, as dan nie met my nie hoekom nie by iemand anders.? Telkens was haar antwoord ‘ek is ok!’.

Rykie vergewe my. Vergewe my vir die kere wat ek nie ‘gehoor’ het wat jy eintlik wou sê nie! Dat ek teen jou gedrag vas gekyk maar nooit die roep van hulp in jou stem kon hoor nie!

Ek weet vandag dat afpersing, vrees en skuldgevoelens ‘ n groot rol in molestering speel. Die onvermoë om te praat uit vrees dat niemand haar ‘n kind sal glo nie. Die skuldgevoelens wat by hulle ingeprent word van ‘dis jou skuld, jy het daarvoor gesoek! Praat en ek vat al jou sport toerusting van jou weg’.

Wat van haar n uitstaande dogter maak is haar passie en toewyding en haar manier van haar uitleef in haar liefde vir die Here. Fil 3:15 ‘Ek is tot alles in staat deur Jesus wat my krag gee’ was haar motto! Hierdie versie verskyn op die meeste van haar sportklere, selfs waar sy haar land al internationaal gaan verteenwoordig het.

Ek het berusting gevind en vrede gemaak met myself. Ek weet dit was haar keuse om nooit te praat daaroor net soos dit James se keuse was om sy dogter te misbruik tot sy voordeel. Ek kan slegs daar wees vir haar op haar lang pynlike pad na genesing.

Dit is my gebed dat die Heer vir jou wat hier lees, n fyn oor sal gee om te hoor dit wat iemand NIE sê, om nie net n gedrag te veroordeel nie maar om dieper na die mens voor jou te kyk..!!

Die rimpeling effek..

Ek weet daar moet n warboel van vrae deur julle koppies gaan soos ons hier in ‘n ry sit en wag vir ons beurt by die berader.

Buiten my oudste seun wat nou weet wat aangaan en Rykie waaroor dit gaan, is die ander twee nog in die duister. ST was tevrede met my antwoord hoekom hulle almal hier moet wees vandag terwille van sy suster krisis. Sorgeloos en vol terg sit Liesbet en grappe maak, as ek maar net haar kinderlike vertroue kon beskerm. My hart klop in my keel, wens daar was ‘n ander manier.

Met sy gewone sagte manier van praat en met baie deernis het die berader vir hulle die verhaal van Rykie geskets waarom ons almal daar bymekaar is. Die stilte is die kamer is hard, net Rykie se sagte huil in die agtergrond. Dan ST se kenmerkende sagte geaardheid, ‘n stil vraag aan sy suster ‘is jy ok sussa?’ Op die berader se vraag aan die twee seuns of hulle pa dalk al ooit aan hulle gepeuter het beide nee geantwoord. Toe hy vir Liesbet vra of haar pa al ooit aan haar gepeuter het kon jy die verwarring op haar gesiggie sien. ‘Ek verstaan nie wat oom bedoel nie’. Ag Here sy is nog so klein en onskuldig. Ons het besluit die beste sal wees om n spelterapeut te besoek vir haar evaluering wat op n kindervlak met haar sal werk.

Ons het aan die kinders verduidelik wat die pas min of meer vorentoe gaan wees, dat hulle nou n afspraak gaan maak met hulle pa om sy kant van die saak te hoor. Vanwee hul pa se geskiedenis van woede en agrresie gaan ons nie geen kans vat nie en sal ons in plek van veiligheid geplaas word.

Die gesegde uitmekaar spat klink so woes maar die rimpeling effek van een persoon se ondeurdagte keuse het n ongelooflike effek op ons huis gehad. Wat by die dag al hoe verder uitgekring het! Die implikasie al hoe meer.

Aan die eenkat my desperate poging om my dogter stabiel en uit die kloue van nou ‘ n dreigende depressie te hou, my seuns se uit mekaar val, amper of hulle in hulle wilde kuiers vergeet en nie nodig het om te erken wat in ons huis gebeur het nie en my sonskyn laatlamkind se laggies wat nou blaffende woede geword het.

Als net omdat ons nie weet hoe om oor hierdie sekondêre trauma te praat, hoe moet moet ons rondom James optree nie. Die optrede van my gesinslede na die bekendmaking wissel van skok, hulpeloosheid, woede en ‘n gevoel van isolasie en selfs vervreemding onder mekaar. Hulle voel heel moonlik geskend. ‘n mate van skuldgevoel en dan die ‘skande’. Ongeag alles bly dit nog hulle pa.

Op die die 27ste Augustus 2010 het hul pa skuld erken. Van ons verwagte ontploffing het niks gekom, hy was eenvoudig soos n afgeblaasde ballon sonder fut. Tog het ons pad na herstel toe eers regtig begin…

As dit net nie so seermaak nie..

Ma ek vertrou jou glad nie!

Ek en Rykie het op haar aandrang vandag deurgery na ouma. Sy wou opsluitlik self vir ouma vertel! Ek het die vorige aand die kinders ingelig dat ek gaan ry om Rykie weg te vat. Op hulle vrae ‘hoekom in skooltyd’ het ek na die beste van my vermoë probeer antwoord. Ek het gereken gee so min as moontlik inligting dan is die wonder en vrae soveel minder. In hierdie stadium het ek net probeer het om alles so stabiel moontlik te probeer hou terwille van Rykie se toestand, inspanning gewag vir volgende week wat ons die kinders almal gaan inlig.

Vrydag môre vroeg het Junior so langs my kom staan en gesê ‘wat presies is hier aan die gang’? Ek het geantwoord ‘Rykie belewe ‘n baie diep krisis, dis n baie sensitiewe saak’. Ek kon sien Junior glo my glad nie, gee my net ‘n week kans het ek gepleit dan sal alles duidelik wees? Toegegee hy is eintlik al ‘n volwasse maar vir my sal hy altyd net my kind bly. Moes ek die kans vat en hierdie opvliende bondel woede kind van my vertel? Gaan ek regtig tot hom kon deurdring dat die saak in ‘n baie kritieke, sensitiewe stadium is? Dat daar nie nou ruimte is vir een van sy voortvaarende impulsiewe optredes nie? ‘Nee! Ek vertrou jou glad nie’ was sy antwoord. Seergemaak het ek geantwoord ‘as jy maar net weet! Ek dra elkeen van julle se belange op my hart. Wil vir elkeen van julle net die beste hê in die lewe’. Here as ek net my kinders hierdie skok en seer kon spaar. As hulle net kan verstaan ek probeer hulle belange beskerm en ek is opreg in alles wat ek doen!

Op sy dreigement van aksie het ek hom net so aan sy arm gegryp. Iets van my greep op sy arm moes hom laat stil bly het, moes hom laat besef het ek is ernstig. ‘Goed! Jy reken jy is reg hiervoor! Al wat ek vir jou gaan sê is jou suster is verkrag en Nee, meer kan ek nie nou sê nie. Net dat jy nie hieroor mag praat met enige iemand nie, nie eers jou pa nie’ het ek geantwoord. ‘Ma wie was dit, ek sal hom gaan doodmaak’ was sy kwaad antwoord. ‘Asseblief Junior moet niks onverantwoordelik aanvang nie, dit gaan die hele saak verongeluk’ het ek gepleit.

So om en by tien uur het my kind my gebel en gesê ‘Ma ek gaan mal word, ek kan nie werk nie. Ek moet weet wie dit is’. Ek het besef ek sal ‘n dringende afspraak by ons berader moet kry want hierdie is een van die goedjies wat nie in of by ons beplanning gaan bly nie. Ek het die sielkundige geskakel, die vroegoggend gesprek geskets met my seun en gesê dat hierdie toestand nie nie tot Dinsdag kalm gehou gaan word nie. Noem my ‘n lafaard maar ek het nie die hart gehad om hierdie seer bekentenis met hom self op my eie te deel nie. James wat het jy aan my en die kinders gedoen! Nie net het jy my kinders ontneem van ‘n sorgvrye lewe, ‘n lewe van aanvaarding vir wie en wat hulle is, ‘n pa wat daar was vir hulle langs die spotveld meer nog ‘n pa na wie hulle kon opkyk, nou moet hulle ook nog verwerk dat hulle pa niks minder as n krimineel is nie!

Ek weet nie wie van ek of my seun die meeste op ons senuwees was nie toe ons by die spreekkamer kom nie maar die berader wag vir ons by die deur. Een van die vele Engele wat ek weet die Here op ons pad gebring het in hierdie seer tyd. Op sy stille dinamiese manier het hy die hele krisis aan Junior geskets. Nog voor hy kon sê wie het Junior geantwoord ‘dit kan net my pa wees’! Sjoe ek was stomgeslaan, hoe het hy daarby uitkom? Weet hy dalk iets wat ek nooit geweet het nie? ‘ Hoekom verdink jy hom’ het die berader gevra?

‘Skielik verstaan ek hoekom Rykie alles gekry het wat sy vra! Sy kon net noem ek kort dit of dat, dan het pa dit gaan koop, maar vir ons was daar net nooit geld net n afjak as ons sou iets vra’! Dis vir my soos n hou voor die kop. So het ek nog nooit daarna gekyk nie. Sy is baie sportief en verteenwoordig baie sportsoorte, so ek het maar altyd gereken dis nodig daarvoor. Tog was daar kere wat ek ook gereken het sekere items was oorbodig en onnodig maar daar was maar altyd n antwoord oor hoekom dit nodig is!

‘Hoekom is hy nog nie toegesluit nie? Hy kan nie daarmee wegkom nie dis my suster!’ het my platgeslaan. Om soveel woede en kwaad in my kind te sien teenoor sy pa en sy beskerming teenoor sy suster. Heelwat praat en paai het gevolg voordat hy kalm was en kon insien dat vir nou, is sy stille ondersteuning die beste vir sy suster. Dat sy nou kalmte, geduld en ondersteuning baie nodig het. Juis omdat sy so oormatig skuldig voel oor  alles, die verkragting, my seer en hartseer, die seer van haar gesin! En die een verantwoordelik hiervoor leef asof hy die gesiene sakeman is waarna almal opkyk!

My hart wil breek om die seer, verdwase amper gelate houding van my groot seunskind-man, met skouers wat hang te sien wegstap na sy kar. Met sy sterk arms so om my, die woorde ‘Mamma ek gaan nie vannaand huistoe kom nie, ek is te bang ek sien vir Pa en ek is nie seker hoe ek gaan reageer nie’  breek my hart in stukke. O Here my hart is reeds so stukkend, hoeveel meer ek kan dit meer dra nie! Laat net my kinders veilig wees! Die hele nag n marteling van wonder is my kind ok, kon ek maar net bid Heer beskerm hom en omring hom met U liefde en sorg deur hierdie nag. Dan die stille berusting dat God ons beskerm en omvou van alle kante. Hy beskerm ons en ek hoef nie bevrees te wees nie, Hy sal ons nooit in die steek laat nie.

Deuteronomium 31:8: “Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

Eerste lig van die deksel…

Ek het die eerste tree gegee om daaroor te praat met iemand naby my…

Een middag na werk het ek op die ingewing van die oomblik na my suster-hulle gery. So om die eetkamertafel het ek hulle meegedeel dat ek iets met hulle deel moet deel!

Geen inleiding of sagmaker nie, net reguit gesê ek belewe ‘n groot krisis, ‘James het vir Rykie gemolesteer, al vanaf 9..’ Is daar ooit ‘n sagte manier om so iets te sê? Voel of niks in my lewe ooit weer sag sal wees nie, net harde, koue, seer feite! Uiteindelik kon ek huil, my seer alleen pad tot hier met hulle deel asook van my vrese en angs vir die toekoms!

Maar tog moes ek hulle vra om nie eers daaroor te praat nie totdat ek my ander kinders ingelig het nie en die beradingspan James gekonfronteer het nie. EK het soos ‘n valk oor my kinders se emosies en gevoelens probeer waak want ek het geweet dat hulle klein wêreldjies ook uitmekaar geskeur gaan word. Soms voel ek so ‘n leuenaar want hulle begin al hoe meer vrae vra want hulle kan die atmosfeer in ons huis duidelik aanvoel. En dan my ma! Ek moes nog aan ‘n manier dink om hierdie aaklige waarheid met my ma te deel. Ek het geweet ouma se hart gaan gebreek wees want sy het James soos ‘n seun in haar huis geneem. Selfs na al sy mannewales het ouma hom nog steeds soos ‘n seun liefgehad en maar elke keer vergewe!

Ek was bang! So bang vir James se reaksie, so bang vir hom! Ek onthou sy woede aanvalle as ek of die kinders iets sou durf waag wat hom laat voel ons het sy naam het skade gedoen. Ek onthou die vuishoue teen die deure om so uiting te gee aan sy woede. Soveel kere was ek gedreig ‘ek sal die lewe uit jou wurg’ sou ek hom kwaad maak! Ek onthou sy reaksie die dag toe ek besluit het ek gaan skei, sy hande om my keel tot ek spikkels begin sien! Sy koue blou oë toe ek nie wil oorweeg om hom terug te vat nie, die mes in sy hande! O Here as ek net weet my kinders sal veilig wees!

Ek het by dominee gaan kuier want iemand moes my help sin maak uit al hierdie warboel gedagtes en emosies want sowaar ek voel soos n weghol trein. Die angs en kommer maak dat ek nie meer slaap nie. Wat gaan van ons word as hulle James arresteer, as ons skielik nie meer ‘n huis het om in te bly, gaan my klein salaris genoeg wees! Wat as James uitvind ek weet voor alles afgehandel is? En dan my kommer vir my kinders! O Here as daar net ‘n manier is wat ek my kinders heel hierdeur kan kry! As ek hulle net hierdie seer kon spaar! My dogter se abnormale gevoel van skuld kon heel, as sy net wil hoor ‘dis nie jou skuld nie’.!

Dan vra dominee ‘En jy Mari, waar staan JY in dit alles’? Verward het ek gevra ‘Hoe bedoel dominee’? Sy antwoord eenvoudig ‘Mari hoe voel jy oor jouself? Jy praat net oor die ander rondom jou maar nêrens hoor ek jou ooit van jouself praat nie? Ek het geantwoord ‘ vir nou is al wat tel my kinders se veiligheid en dat dinge vir Rykie so stabiel moontlik gehou word. Ek kan later met my emosies deel’.

‘Wat sê die Bybel Mari’ het hy gevra? ‘ Dat ek die Here my God moet liefhê met alles in my, en ek moet my naaste liefhê’ het ek geantwoord. ‘Ja, en…’? het hy gevra en my die Bybel aangegee. ‘Lees vir my Matt 22:39’ vra hy, Die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’. Hy vra waar sê die Bybel ek moet ander bo myself stel..? EK het net stil gebly nie seker hoe om dit te antwoord nie want ander belange was nog altyd vir my belangrik. Vir eerste maal besef ek, ek het net gelewe vir ander se vreugde en welbehae.. myself maar net altyd op die agtergrond geskuif.

Ek moes hardop sê: ‘Ek is lief vir myself! Sjoe hoekom het ek nog altyd ander se belange eerste gestel, hoekom het ek gedink ek is nie belangrik nie ! Ek weet nie regtig die antwoord hierop nie, maar ek weet ek wil ook gelukkig wees en voel ander respekteer my.. Vir die eerste keer het ek besef ek het al my my drome en ideale neergelê vir James, terwille van ons gesin. Want ek het geglo so hou ek my gesin velig en bymekaar asof ek James se afwesigheid teenoor sy kinders so kom uit balanseer! Wondelik om te besef dat ongeag van al my foute, geniet ek Sy goedkeuring en aanvaarding as Sy kind.

Here leer my om myself te aanvaar soos U my aanvaar het, dat ek kan weet dat U my hele wese ken, en dat U my oneindig baie lief het!

Psalm 139:15 Geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

Stukkende kruik..

Jy is ‘n pragtige persoon, binne en buite! Moet nooit enigiets anders glo! “

Vandag is dit die ginekoloog se beurt, die laaste voor hulle James gaan konfronteer. Al hierdie geforseerde swyg maak my mal want ek kan die onrus in my ander kinders bespeur.

Rykie is baie stil, op die oomblik kom sy hard en in beheer voor maar ek kan die mengelmoes van emosies in haar ervaar. Haar emosies ry wipplank , een oomblik huilerig tot n bondel woede waarvoor ek maar elke keer moet instaan. Sy ervaar al hierdie woede en die person op wie sy dit wil uithaal in sy eenvoudig te bang voor…

Wat n kontras is hierdie besoek na die een by psigiater! Dis suster straal omgee en warmte uit, terwyl sy Rykie wegneem vir toetse. ‘n Gedeelte van my wil saam met Rykie wees, die ander skram weg van al die seer-seer details wat ek moet aanhoor. Here dis my klein dogtertjie hierdie, nou moet ek grootmens goete praat en eintlik wil ek haar net vashou en alles regmaak! Maar geen soentjie, bietjie spoeg of pleister wil help nie!

Die spreekkamer is vol nuwe mammas en amper mammas. Ek is so emosioneel want ek onthou die eerste dag toe sy in my arms neergelê was. My grootoog meisiekind na twee seuns. Hoe sy met twee wakkerogies so in my oë gestaar het. Ek weet die mense rondom my wonder oor my trane , maar sal een van hulle verstaan as ek vir hulle sê pas jou kind soos goud op, daar is monster orals!

Die suster bring Rykie terug en sy kom sit so teen my, saam wag ons nou haar beurt af. Sy praat niks en ek sê niks. Dan is dit ons beurt. Ek vra haar of ek moet saamgaan, want ek verstaan dat sy ook haar ruimte nodig het in hierdie proses. Nee kom saam asseblief is haar woorde. Weer vertel ek die verhaal van voor, antwoord vrae en dan verduidelik die ginekoloog die proses aan ons. Sy is so sag en wonderlik met my kind! Deur ons trane bly sy sê hierdie is die eerste treetjie na gesond word. O Here gee my krag! Ek voel soos n stukkende kruik waaruit al die olie lek!

Dis vir my n marteleling! Ek voel my hart breek flenters toe ek hoor sy moet die ondersoek doen soos vir n verkragting saak wat in die hof kan dien. Dan verduidelik sy dat sy Rykie gaan toets vir alle moontlik siektes en sy sal dadelik begin met n teenbehandeling teen moontlike oordraagbare siektes, ‘n voorkomende behandeling vir 6 weke. Na die ondersoek vra die ginekoloog vir Rykie of sy sal omgee as sy met my alleen praat. Sy het om haar tafel gestap en haar stoel teen myne getrek. Met haar arms om my het sy gesê dat daar geen twyfel is dat my dogter gemolesteer is nie, heel moontlik al vir jare lank!

Ons klim in die kar in doodse stilte. Haar volgende siniese woorde laat my uitbars in trane ‘so nou ek het ook n gesinsbeplanningkaart’. Ek huil vir die seer, woede, die skuldgevoelens wat ek voel. Rykie vergewe my, vergewe my dat ek jou nie beskerm het nie! Vergewe my vir die kere wat jy dalk vir my probeer wys het daar is fout ek dit eenvoudig nie so verstaan het nie!

Here vir die eerste keer voel ek haat vir James. Nog altyd het ek geglo my huis is my kinders se veilige hawe, die wêreld daar buite is boos! Maar nou moes ek erken die monster was al die tyd in my huis! Hy het haar nie net fisies gemolesteer nie maar ook haar lewe, sienwyse en lewensuitkyk.

O Here gebruik my gebrokenheid om vir ander n lig te wees!

Ten spyte van storms…


Here hoeveel nog! Met elke insident in my lewe ek vasgehou aan die wete U sal nooit los en iets gee wat ek nie kan dra nie, maar Vader hierdie pakkie is te groot!”

Ek het begin glo êrens moes ek iets vreeslik verkeerd gedoen het, het twyfel aan my geknaag of die Here nog regtig van my onthou? Tog in hierdie tyd van huil en twyfel het die Here begin my bombarbeer met mense en insidente om my te laat besef Hy is Lief vir my!

Ek kry nie een keer maar DRIE keer op een dag verskillende insedente om dit te bevestiging:

Ek het al van 3 uur die Saterdag oggend wakker gelê, met vrae en kommer wat maal in my kop. Skielik het Kolessense 3 by my opgekom. Ek het bly lê want wie lees nou 3 uur in die oggend bybel, ek sal dit later gaan lees. En toe het ek baie duidelik die boodskap kry ‘Mari, staan op en gaan lees Kolessense 3’ asof Hy wou he ek moes dit dadelik hoor! ‘n Stuk wat vertel van die ou en nuwe lewe, van vergifnis!

Kol 3:12 Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe!

Later die oggend sit ek in my kar en kyk hoe Rykie hokkie speel. ‘n Vrou kom stop langs my waar ek in kar sit, nog n ouer ondersteuner het ek aangeneem. Sy het uit geklim en so om die kar gestap reguit na my toe! Die volgende oomblik het sy haar hand so op my skouer kom sit en gesê: ‘ Jesus wil hê jy moet weet Hy is baie lief vir jou!! Omgedraai en so weggestap na haar kar toe, weer gestop en so na my gedraai met die woorde: ‘dis regtig waar Jesus is baie lief vir jou’. Sy het in haar kar geklim en weer weg gery! Ek het net so versteen bly sit, stom geslaan. Besef ek het nie eers dankie kon uitkry nie! Toe die besef van wat het regtig nou hier gebeur, ek het net my kop so op die stuurwiel laat sak! Trane het my oorval, al wat ek kon uitkry was, Dankie Here dankie vir U bevestiging dat U vir my lief is.!

En net die volgende oomblik begin Retief Burger se Sekelmaan oor die radio speel: Dis veral sy woorde wat hy sê voor hy begin sing wat my laat stil raak: ‘my eenvoudige gebed is dat jy sal ophou soek en sal hoor hoe die Here die bron van Liefde, Liefde self oor jou saai, dalk kan jy dit nie glo, dalk wil jy dit nie glo nie, maar vat dit, hoor wat Hy oor jou sê’

‘Vannaand se sekelmaan is net vir jou

Mag Hy dans tot in jou hart en Sy arms om jou vou

Want as Hy kon praat sou Hy eenvoudig sę:

‘Hoe diep my liefde hier binne vir jou lę’

Mensekind ek weet jou hart is broos

Want die twyfel trek jou skeef en jy’s leeg en moedeloos-

Maar as jy my oë vir ‘n oomblik sou kon leen

Sou jy ‘n bruid sien, in wit geklee

En weet jy wie dit is?  Kan jou aardse siel

begryp na wie ek verlang?

Dit is jy, My bruid in ewigheid

Ek het besef dat ten spyte van die stormweer en die hulpeloosheid van my omstandighede, God se vaste beloftes die enigste is wat vas staan. Daarom kan ek spyte van die negatiewe dinge wat ek beleef, steeds glo dat daar hoop is.

Hou aan om in die oë van Here te kyk en soek Sy Leiding! Leef met hoop..!

So bitter jonk en tog so moeg geleef..

‘n Windstil Vrydag asof  selfs die wind vandag sy asem ophou!  ‘n Emosionele dag vir my! 

Vandag is dit ons twee en die psigiater!  Sy is die derde berader wat ons as deel van hierdie oneindige lang proses moet sien.  Ons berading span bestaan 3 sielkundiges, maatskaplike werkster, die predikant en n advokaat vriend..  Here ek voel so broos en so oneindig alleen.  As ek hierdie las met net een mens kon deel maar ons moet wag todat almal klaar is met hulle ondersoek

Weer die hele storie van vooraf.  My hele pedigree word uitgelê, haar pa s’n,   terwyl ek so praat wonder ek,  het ek hom ooit regtig  geken? Soms voel of ek 27 jaar met n vreemdeling getroud was!  Praat, vrae, nog vrae en onthou maak weer al die nuwe rofies stukkend!  Dis n koue harde gesprek, die psigiater wys nie n teken van emosies nie, self haar koue leerbank laat my ontuis voel.  Ek besef dis haar werk maar jinne selfs net n warm glimlag sou my laat voel het ons is veilig!  Na die ure lange gesprek met haar is die opdrag hard en  duidelik  ‘julle moet nou ry en die saak gaan aangee by die Woman & Child Protection, dit word wetlik van julle vereis’.

My mooie dogter huil hartverskeurend, ekself is doodstil die hele pad tot daar. Ek kan nie eers een woord uitkry, my keel het eenvoudig nie plek vir n woord nie!

Nou lê die swaar voor… ek stap saam met haar in by Woman & Child Protection.  Die plek sit gepak met mense, sommiges lê op die bankies, ander sit en eet, van die vrouens sit en voed hul babas sommer daar tussen al die deurmekaar menigte!  Ek en Rykie staan soos verlorens daar in portaal, nie seker waarheen of wat nou nie!  ‘n Polisie vrou kom nader en verneem of sy ons dalk kan help, sy moes seker die wanhoop en gevoel van weghardloop op my gesig gesien het!  Ja asseblief het ek sag uitgekry en haar verduidelik hoekom ons daar is.  Ons is na n ondervragings kantoor met net n tafel in geneem, so staan staan het ek aan haar begin vertel ons wil n saak van verkragting en kinder molestering kom aangee.  Rykie het sag gehuil toe die konstabel het aan haar verduidelik wat haar opsies is, wat die proses alles behels en dat sy volgende na die Keniaanse dokter by hulle moet gaan vir n inwendige ondersoek. Nee!, oor my dooie liggaam sal ek dit nie toelaat nie, ek gaan haar nie nog verder traumatiseer nie het ek geantwoord! Op haar antwoord ‘mevrou dit moet gedoen word vir die hof’ het ek geantwoord ek sal haaself na n vroue ginekoloog toe neem.

Buite het ek n oomblik so stil gaan staan in die son, wou net hê die son moes die hitte gee wat die dag sover nog nie kon bring nie!  Here hierdie koue is in my hart!  Vir n oomlik moes ek veg teen verbittering vir die vernedeing en seer wat James veroorsaak in my kind se lewe! Vir dit wat hy van haar gesteel het!

Op pad terug draai Rykie so skuins in die sitplek en  genoem dat oupa (my oorlede pappie) so 3 weke terug een nag aan haar verskyn het.   Hy het by haar op die bed kom sit en gesê het ‘Dis reg Rykie. Jy moet begin praat en regmaak met die mense’.   Haar volgende woorde laat my hart amper ophou klop!   ‘Mamma ek het hierdie gevoel ek gaan nie meer lank lewe nie..!!”   O Here dit ontstel my so baie, dit maak my  paniekbevange!  Hoe antwoord ek so vraag?  Is dalk maar net die feit dat sy nou soveel jare se opkrop en wegsteek nou vrylik oor kan praat?

O Heer ek kan sien my kind kry so swaar dit breek my hart in duisend stukke om haar te sien spook met al hierdie magdom van emosies!   Here ek kan maar net troos en moed in praat en soms maar net stil by haar sit. Ekself worstel  met hierdie gevoel of is n besef dat my kind al n hele lewe in 17 jaar gelewe het, so voluit gelewe het. Besef ek beangs Rykie bedoel dit as sy sê sy is reg om Huis Toe te gaan want dis hoe sy nou voel, klaar geleef!

Ek maar net vashou aan U belofte o Heer soos in Matheus  ‘Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.’

Tyd van Maskers

Nog n dag van maskers…

‘n Masker vir die wêreld en masker vir my mooi dogter ter wille van haar gevoel van veiligheid en stabiliteit. In die dag ‘n masker om vir die wêreld die oneindige seer in my hart weg te steek alhoewel ek dit wil uitgil vir die wêreld van sy wandaad teenoor my kind maar ter wille van n proses moet geduldig wees!

Soms voel ek soos n vasgekeerde in n rotsstorting na n aarbewing!  Ek voel soms so vreesbevange dat ek kan nie asem kry, vasgevang en vasgeval in n reddelose hopelose situasie, maar terwille van my kinders rondom my moet ek my kop optel en normaal lyk, net snags as ek my kamer se deur toe trek kan ek huil en toegee aan die seer en pyn in my!

Die tyd wat hierop volg is soos een angswekkende rollercoaster, dokters, sielkundiges ,beraders, vrae, vrae, en nogmaals vrae! Daarmee saam my skuldgevoelens “waar was ek”, die mense se vrae help ook nie veel om dit minder te maak ‘het jy regtig niks geweet nie of hoe kon jy nooit iets opgemerk het nie’.

Die gevoel van hulploosheid en magteloosheid, Ag  Here as ek net geweet hoe en wat om volgende te doen.  Almal is so stadig! Niemand besef hoe dringend dit is nie! My hart wil breek as ek sien hoe swaar my kind kry en ek sien hoe sy voor my wegkrimp.  Sy is n mengsel van emosies wat wissel van woede, hartseer, eensaamheid, angs, senuweeagtig, bang, verwarring, en gevoelloosheid. Dit is so traumaties om te sien hoe sy probeer ‘cope’ noudat haar jarelange geheim bloot lê.  Dit maak my woedend as ek hoor hoe sy haarself blameer vir alles, om haar vrees te sien omdat sy glo hy gaan haar doodmaak as hy uitvind sy het gepraat.

Tog is die Here se gerustellende boodskap so duidelik  “Hou moed, moenie bevrees wees nie”  en kon ek saam sing met David Meece :In my Brokenness, In my hour of Darkness, I will lift my hands and Worship You. In my Brokenness, In my Time of Sadness I will lift my voice in Praise to You.”

Nag van worstel

Die nag was so ondraaglik lank, een van worstel met die Here. …  

Here U het gesê  U sal nie my nooit bo my perke beproef sal word nie,  maar Here van alles oor my pad is hierdie een te swaar! Here hoeveel nog? Is ek nog nie deur genoeg nie al hierdie jare nie? Dan herrinner Hy my aan Sy Seun wat soveel meer moes dra en n swaar prys moes betaal vir ons sondes.

Ek huil,  maar Here waar was ek? Hoe kon dit alles vir soveel jare aangaan en ek nooit iets opmerk nie?  Here ek wat so gevoelig was vir elke nuwe vrou in sy lewe.   Hoe? hoe kon ek dit mis?  Ja daar was altyd die tekens dat my mooi dogter worstel met ‘issues’…  Haar woede en kwaad vir die lewe, soms die brandwonde of snywonde maar op elke bekommerde pleit ‘Rykie praat met my’   was dit altyd n verergde antwoord ‘Ma hou tog op van alles n issue maak!’ Hoekom het die berading met die egskeiding haar nie eers laat opmaak nie!

My huwelik van 27 jaar flits voor my oë verby, al die seer en vernedering van sy verskeie ontrou, die verbale afbreek van myself en my kinders, sy  woede aanvalle.    Verskeie kere stap ek met James tot by die tronk se deur in my gedagtes, klou tog maar ook vas aan die stukkie hoop van dalk is daar n misverstand!  Die seer om te verwerk hoe laag en gemeen hy eintlik al die jare was.  Sy maniese vals voorgee, die fanatiese baklei as een van ons tog sou durf waag om sy ‘naam’ te onteer.

Kort kort  moes ek my gedagtes vasvang om nie toe te gee aan al die  wonder, dink, hoekoms en waarom’s nie.  Ek moet nie te veel dink nie want net die gedagte daaraan wat hy dalk alles met my dogter aangevang het, maak my mal!   Want ek onthou hoe dit tussen ons was en net die gedagte van hom so by my/sy dogter  maak my gek!  Die wete dat ek al die jare met n pedofiel getroud was.

Ek sit toegewikkel in my kombers, en verwelkom na die son se opkoms. Die rooi goue strale was vir my nog altyd die Here se belofte van Hoop…

1 Kor 10: 13 Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan