Ek laat jou gaan

Jy, Jy was die liefde van my lewe
In jou blou oë poele kon ek verdrink en vergeet van tyd
By jou het tyd stil gestaan, was jy my warmte en sonskyn
En kon ons ure lag en pret hê

Jy, waar het jy heen verdwyn het ek sag geween?
Hoe kon hierdie selfde blou oë nou vuur spoeg
Hierdie einste liefdevolle mond nou ‘n sweepslag hou gee
Hoe het stilte my enigste geselskap geword, waar het jy heen verdwyn?

My wêreld lê op sy dak
Sonder jou is my wêreld leeg en koud
Met tyd sal warm sonstrale die winterys om my hart laat ontdooi
Sal ek soos ‘n nuwe skoenlapper verskyn in reenboog kleure mooi

James, Ek onthou my drome en ideale op ons troudag. Hoe die reën het die aarde kom skoonwas het net voor ek moes kerk toe vertrek. Die hemel daarna getooi in die mooiste grootste reenboog vir al die beloftes van die Heer! Ek onthou myself laggend onder n groot sambreel hardloop, groot wit rok saam gebondel bo my knieë om waterplasse te vermy na die beskerming van die kerk se stoep! Ek onthou ons belofte aan mekaar van liefde en trou terwyl ons in mekaar se oë gekyk het. Ek onthou my woorde aan jou op die kerkstoep na die diens ‘kom ons doen dit oor!’

Ek onthou die nag toe ons eerste seunskind bondeltjie in my arms neergelê is, jou verwondering en trots. Ons verwondering vir die perfekte gevormde handjies en voetjies en daardie toonjies! Hoe jy daardie grote rugbybal langs hom neer gelê het en kon droom oor hoe groot rugby hy eendag gaan speel, kon amper die skares hoor juig.

Onthou jy die wintersdag toe ons tweede seuntjie gebôre is. Hoe die fonteine stokstyf gevries gestaan het en die tuine in yssprokies getooi was. Met hoeveel trots en sorg jy ons klein seuntjie toegewoel het in dik komberse teen die ysere winterkou oppad huistoe. Hoe ons gefasineerd was hoe twee klein seuntjies so perfekte pasmaats was soos ‘n Dawid en Jonathan. Die een die ander se skaduwee. Ouboet se beskerming en sorg en boeta se opkyk na sy held ouboet!

Ek onthou die Saternag wat ons kleine prag dogter uiteindelik gearriveer het, ‘n hele twee weke laat. Hoe sy met daardie groot ronde blou ogies in myne gestaar het asof sy wou sê wêreld neem kennis ek is hier! Hoe ons sommer baie vroeg besef hier is n girl oppad met guts! Geen boom te hoog en geen uitdaging was te groot vir haar nie. Ek onthou hoe die seuns haar spesiaal kom haal het as n rugbymaat nodig was. Hoe sy met ‘n kleine linkerhand n bal kon boul wat menigte seuns laat kerm het as hul paatljies so spat!

En toe daag ons sonskyn meisiekind op, so vlinder fyn en sag, wat almal net wou toevou en beskerm. Onthou haar altyd laggende bekkie en daai onskuld. Die baie lag saam met haar vir haar opregte antwoordjies, hoe sy jou om haar klein pinkie kon draai. Haar geliefkoosre ‘puppy eyes’ as jy ‘n slag probeer streng wees met ‘n nee.

James as ek nou so terug kyk na dertig jaar se liefde, ja daar was baie daarvan maar net baie, so baie meer seer en afbreek. Dan wonder ek waar het die James heen verdwyn wat ek so hartstogtelik liefgehad het, wat ek geglo in my jongmeisie drome, ek sou volg tot aan die einde van die reenboog. Nou is al wat oor is die seer, kwaad en hartseer. Die kwaad as ek na my kinders se seer kyk, hulle stille stryd om aan te pas en my probeer om almal regop te hou. Die seer om te weet geen pleister of kleintyd se spoegies gaan help om hierdie kinder hartjies gou weer heel te maak nie.

Die kwaad as ek onthou van al die jare se emosionele afbreek, die herhaalde afkeuring, die te kortskiet, die gevoel dat ek jou nooit tevrede kon stel. Jou stelmatige breinspoeling van minderwaardigheid wat begin vreet het aan my selfvertroue, my sin van eiewaarde, my vertroue in my eie persepsies en my selfkonsep. Jou voortdurende slegsêery en verkleinering, deur intimidasie en ja soms onder die dekmantel van ‘leiding, onderrig of raad’.

Die hartseer as ek onthou hoe veilig ek by jou gevoel het aan die begin maar hoe angs en totale vrees allesop die ouend oorgeneem het. Hoe jy ons met hierdie vrees eintlik gevange gehou het en tog so maar so geintimideer het om maar altyd jou sin te kry omdat nie een van ons teen jou woede kon opstaan nie. Ek onthou die magtelose woede as jy my woorde so kon verdraai dat ek aan myself begin twyfel het of ek dalk nie regtig besig is om mal te word nie.

Dis met skuld en berou dat ek voor my kinders staan. Dat ek vir soveel jare vasgeklou het aan ‘n droom en my troubelofte aan die Here. Dat ek altyd geglo het ek kan so verander dat jy eendag sou tevrede wees met my. Ek is opreg jammer dat ek nooit reguit vir jou kon sê hoe seer jy my gemaak het met al jou beledigings, verwerping en ontrou.

James ek het jou tog maar in n mate probeer beskerm het teen die aanslae van veroordeling en verwerping van die mense daar buite. ‘n Deel van my het maar tog nog altyd geglo daar is nog goed in jou ook ongeag van die gruweldaad wat jy aangevang het. Deur dit alles het ek soos n drenkeling vas gehou aan die belofte van die Vader dat Hy ook vir jou sondes gesterf het aan die Kruis, en het ek vurig gebid dat jy tot bekering sal kom en opregte vergifnis sal vra voor die Here, so ook van ons. Maar ek sien geen berou of enige poging van jou kant om te werk daaraan om jouself te genees nie.

Daarom vergewe ek jou as ‘n geskenk aan myself gee. Daardeur bevry ek myself van al die seer en pynlike gevoelens teenoor jou. My hoop is dat jy eendag die vrede, vryheid en vreugde wat vergifnis bring sal kan ervaar. Ek laat jou gaan!

To forgive is to set a prisoner free and discover that the prisoner was you.” Lewis B. Smedes