Op Sondag 3 April 2011 was ek genooi om getuienis te lewer tydens n kerkdiens.
Ons lewe is so n harde, veroordelende wereld, daarom is dit my gebed dat wat ek met u deel vandag julle sal aanhoor met ‘n vergewendgesinde ingesteldheid en die wete dat Jesus se genade elkeen van ons insluit in Sy Liefdesverbond.
Die afgelope paar jare was soos n woeste storm vir my, ‘n kwaai see, golwe het met tye gedreig om my te verswelg. My kleinkinders en die moeilike besluit om hulle in my pleegsorg te neem en so tog die Mammie te ondersteun in haar stryd om haar voete te vind.
Die seer met die verwerk van n ander vrou in ons huwelik en die egskeiding wat op die ou end hierop gevolg het. Dit het begin as ” ONS is net vriende, ek leer haar net golf speel” tyd. Stadig maar seker het sy my leef ruimte in ons huwelik al hoe kleiner gemaak, moes ek toe kyk hoe hulle al meer tyd bymekaar deurbring en hoe sy selfoon ons lewens oorneem, elke moontlik manier van saam wees word gereel word onder die dekmantel van vriendskaplike braaie, sport en werk wat hulle saam op ander plekke moet doen. Die vernedering as ek besef sy weet meer van sy gedagtes, gevoelens en probleme. Dis n emosionele afbreek spiraal van kwaad, hartseer, pleit en huil dat sy tog moet breek waarmee sy besig is en dan soms moed en tog vashou aan dalk kan ek tot hulle deurdring, tot aanvaarding.
Die Here is my Herder, my skuilplek, die plek waar ek kan huil en sê Here ‘ek weet nie meer nie’! Tog is daar elke dag iets waaraan ek kon vashou, Hy laat my nooit alleen.
En toe net toe ek alleen is, verloor ek my werk! Skielik moes ek op n karige skool salaris n huis, emosionele verflenterde kinders en my eie emosionele onstabiliteit onderhou. Ek het absoluut vasgeklou soos n drenkeling aan die Here se belofte… Dat Hy my nie bo my perke sal beproef nie!
Ps 94:18 Toe ek gedink het my voete het gegly, het U troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring”
Toe een koue wintersaand in Julie laas jaar’n skokkende bekentenis van my liefling dogter… ” Mamma sal jy my glo as ek vir jou sê ek word al gemolesteer vanaf 9 jaar oud!.. dit skud my soos n aarbewing.. ek voel soos n vasgekeerde in n rotsstorting na n aarbewing! Ek voel soms vreesbevange, ek kan nie asem kry , vasgevang en vasgeval in n reddelose hopelose situasie, maar terwille van kinders rondom my moet ek my kop optel en normaal lyk, net snags as ek my kamer se deur toe trek kan ek huil en toegee aan die seer en pyn in my!
Die tyd wat hierop volg is soos een angswekkende rollercoaster, dokters, sielkundiges ,beraders, skool, vrae… Daarmee saam my skuldgevoelens “WAAR WAS EK”, ander mense se vrae help ook nie veel om dit minder te maak “het jy regtig niks geweet nie of hoe kon jy nooit iets opgemerk het nie” MAAR deurentyd die Here se gerustellende boodskap so duidelik “Hou moed, moenie bevrees wees nie” en kon ek saam sing met David Meece : ” In my Brokenness, In my hour of Darkness, I will lift my hands and Worship You. In my Brokenness, In my Time of Sadness I will lift my voice in Praise to You.”
My eerste vraag aan die Here: “Here hoeveel nog? Elke keer het ek vasgehou aan die wete U sal nie vir my iets gee wat ek nie kan dra nie, Maar Vader hierdie pakkie is te groot!” Ek begin glo êrens moes ek iets vreeslik verkeerd gedoen het, maar in hierdie tyd van huil en twyfel het die Here begin my bombarbeer met mense en insidente om my te laat besef Hy is Lief vir my! Ek kry nie een keer maar DRIE keer op een dag verskillende insedente om dit te bevestiging. Dis in hierdie tyd wat die Here dit vir my duidelik wys dat HY gesterf het aan die kruis vir groot en klein sondes, ek moet nie oordeel maar n pad van vergifnis loop.
Een oggend kry ek n Dokument op my tafel “Wees veerkragtig…. Die palmboom“. As jy dink aan n orkaan sien jy altyd die palmbome wat so gebuigd en verwaaid lyk! Sien jy alle soorte bome, die groot en impressive bome omgewaai en ontwortel, wat nie kon staande bly in winde van tot 160 km@uur. Maar een sort boom het bly staan, die Palmbome!
‘n Palm boom kan buig totdat sy kop die grond raak sonder om te breek , soms so dubbeld gevou in storms van tot 5 ure lank. Studies toon dat wanneer die palm boom so gebuig en gestoot word , sy wortelstelsel eintlik versterk word so die stres skep nuwe geleentheid vir groei.
Ps 92 :13 Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome Laat toe dat swaar tye jou buig sodat jy kan groei!
God gebruik die palm boom in daardie vers, want God het geweet dat daar sal moeilike tye kom wat ons sal moet buig sonder om te breek. Hy het geweet dat gebeurtenisse oor ons pad kom wat ons van ons blydskap en vreugde sal beroof, erger nog van ons geloof kan beroof. Met tye sal ons verslaan voel maar net soos ‘n palm boom, wanneer die storm is verby, gaan ons nie bly lê nie! Ons almal beleef teleurstelling en terugslae, maar ons moet n veerkragtige ,”ononderkrybare ” ingesteldheid ontwikkel. Staan op en veg nog n dag! Ons geloof en hoop is ons wapentuig. Bied jou uitdagings moedig die hoof want God het belowe on jou dubbeld en dwars te vergoed vir jou moeite en verdriet.
Ek het in hierdie tyd ervaar dat ons moet blindelings vertrou soos in 2 Kor 5:7 want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Laas jaar se reeks Christene leef met hoop het my laat besef dat ten spyte van die stormweer en die hulpeloosheid van jou omstandighede, God se vaste beloftes die enigste is wat vas staan. Daarom kan ons spyte van die negatiewe dinge wat ons beleef, steeds glo dat daar hoop is.
Jou geloof en jou optrede as kind van God moet ander mense moed gee. My wens vir elkeen hier vandag wat self ‘n stil pad van seer, vrees en moedeloosheid loop, Moenie jouself in `n bondeltjie gaan opkrul nie, moet jouself nie afsonder van die geloofsgemeenskap nie, maar stap in geloof met jou oë gerig op Hom.
Soos Rom 15:13 sê: Mag God, die bron van Hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Nota: As ek vandag so terug kyk, kan ek net in verwondering kyk na my groei ongeag van die emosionele op en af pad wat ek maar nog steeds loop. Die ongelooflike wete dat ek lewe in die Belofte van Hoop en dat ek kan weet my omstandighede kan nie my liefde, vreugde en vrede opeet nie!