My onthou pad … 1987

Vandag neem my terug na ‘n Maandag in Junie 1987 wat ek voor ons poskantoor gestaan het en ek die wêreld om my voel rondomtalie het ….

As deel van my terapie na gesond word moes ek begin terugstap op my lewenspaadjie en veral my huwelik van 27 jaar, moes ek uitwerk hoekom ek so bang is vir James. My onthou pad neem my na 1987, die eerste insident van n derde persoon in ons huwelik, ons was vyf jaar getroud en ons oudste seun so agtien maande.

My etenstyd, ek het so pas ons pos gaan uithaal, voel half verveeld met myself want James was af Kaapstad toe vir die naweek… ‘n kar weggeneem vir ‘n handelaar, met die verskoning om sommer die rugby ook te gaan kyk op Nuweland. Daar was ‘n strokie vir n posstuk met te min posgeld. Ek wou dit eers los want ek moes terug kom by die werk. Op die ingewing van die oomblik het ek omgedraai om tog maar te gaan afhaa, tipiese vroumens nuuskierigheid ne! Ek het die 10c oor die toonbank geskuif na die dame, syhet weggeloop en terug gekom met n groterige koevert. Sy het aan my oorhandig. ‘n Groot koevert soos n verjaarsdag kaartjie, my eerste gedagte was vir wie?.. want dis was vêr van my, James of Junior se verjaarsdae af…. dalk n verdwaalde posstuk het ek gedink? Ek onthou ek het so uit die poskantoor gestap, die stel trappe afgeklim so lees lees. Gesien dis aan James geadresseer , ek het dit koevert omgedraai en die naam gesien van die versender… en net daar so op die sypaadjie het ek koevert oop geskeur.. ‘Met al my liefde, baie danke vir ons tyd saam, ek mis jou oneindig baie liefde en verlange Elana’ klomp hartjies en soentjies onderaan! die wêreld tuimel om my, want ek het besef wat ek eintlik lees maar… maar dit kon nie wees nie!

Iemand het my so op my skouer getik, ‘n huisvriend van ons “Is als reg Mari?” Dalk het hy die verslaentheid gesien op my gesig ‘Ja.. ja dankie als reg” … maar binne my gil dit NEE . Ek het al die pad teruggeloop terug werk toe. Kort kort het ek gestop, die kaartjie uitgehaal en eers weer seker gemaak , is dit regtig aan my James gerig? Ek was soos n robot… Ek het by die bank ingestap en na James se kantoor geloop na sy lessenaar toe. Ek het sy ander pos in sy laai gesit. en sy aktetas daar gesien staan. Ek het so oop geklap en begin so deur sy dokumente gegaan, kry nog n briefie met n adres en telefoon nommers… Toe kon ek ook ‘n van by die naam sit ‘Elana van Zijl’. Maar waar, van waar, wie was sy! Ek het nog nooit van haar gehoor, en het meteens het ek onthou , James het gedurig van iemand gepraat vandat hy terug was van die Weermag Kamp in Meimaand in Pretoria. Skielik het al sy skielike ryery tyding en ontydig af Kaapstad toe om karre weg te neem vir my sin gemaak.

Verward en verslae het ek agter my lessenaar gaan sit by die werk. Uiterlik die stil en kalm Mari maar binne in my was ‘n oorlog van gedagtes, my hart was so seer, maar ek kon nie eers huil nie! As ek net kon huil, gil of selfs skreeu!!! Ek kon dit met niemand deel nie of selfs bespreek nie!

Genadiglik word dit 5 uur, ek het vir Junior op by sy dagmoeder gaan optel …. haastig ek wou net by my huis kom… gaan wag want ek het geweet James behoort so 7 die aand by die huis te wees. Ek was soos ‘n slaap wandelaar, kos gemaak vir Junior, hom gebad en toe gewag. Om en by ses uur het die foon gelui, James! ‘ek is hier by jou neef-hulle, ons eet sommer hier’. Ek het n sak gepak vir Junior en gery. Ek wou nie tussen mense wees nie, ek wou vir James alleen kry, ek wou weet wat gaan aan! Ek was eenkant, stil tussen hulle en amper venynig met my antwoorde op alles wat James gesê het. Ek kon sien James was ongemaklik nie seker wat aangaan net soos ek weet neef-hulle vermoed iets snaaks was aan die gang. My neef het kom vra of als reg is, ek het net bevestigend geantwoord!

By die huis gekom het ons in die huis geloop, hy het sy goed in die kamer gaan neersit! Met die sy instap in die kombuis, het ek net die posstuk so in sy hande gedruk… hy het my nader probeer trek en sy woorde “wag begin laat ek net verduidelik” het ek hom sommer met my vuiste op sy bors geslaan! Ek was histeries van kwaad, seer en al die vernedering veral toe hy erken al die trippies af Kaap toe die afgelope paar weke was altyd na haar toe. Toe ek hom vra oor die sweetpak wat hy die een slag vir my saam gebring het, het hy so ewe kalm geantwoord sy het dit net vir hom aangepas om te sien of dit vir my sal reg wees. Ek was so kwaad, en vernederd. So stuk vir stuk het hy daarmee uitgekom dat hy haar in Pretoria op hulle kamp ontmoet het en dat hulle al van daar af n seksuele verhouding gehad het.

Hy het gevra ek moet hom vergewe en nog ‘n kans gee. Ek het hom voor ‘n ultimatum gestel dis of ek of sy, dat hy alle kontak met haar moet verbreek as hy enigsins ernstig is oor sy weer probeer. Ek het met my dominee gewerk om myself weer te probeer opbou maar James het net eenvoudig geweier om met iemand saam te werk. Ek het nooit met enige iemand oor die voorval gepraat of met enige van die gevalle wat sou volg in die toekoms!

Ek het op n kosbare boekie afgekom wat gaan oor vergifnis. Ek het dit bestudeer en deur gelees, tot op die letter probeer toepas in my lewe. Daar waar angs en twyfel my oorval het, het ek my daaraan herinner dat ek as ek gesê het ek vergewe hom ek dit nooit weer sou ophaal nie. Daar was sulke swaar emosionele tye wat ek geleer oorkom het met n masker op my gesig… soos n nar! Ek het vasgehou aan psalm 23 ‘Die Here is my Herder’  Net as ek alleen was het ek soms toegee aan my angs en alleenheid, het ek net in my eie binne kamers gehuil. James kon nooit verstaan hoekom dit my nog pla en sekere goed my laat onveilig het nie, hy het mos gesê hy is jammer!

James het geweier om ooit weer hieroor te praat en is dit maar net altyd weg gepraat asof dit nooit bestaan het nie… Ek was die een wat maar alles moes verwerk, moes daarmee tevrede wees om nooit’ n jammer of enige verskoning te kry nie of self het hu nooit ‘n hand in eie boesem te steek nie. Alles was maar altyd my skuld. Ek moes hom te allle tye met respek voor ander behandel, ek moes net nooit iets doen wat hom laat voel ek raak sy karakter aan nie. So het ek ‘n meester geraak in krisis ontlading, as daar iets was wat kon lei tot konfrontasie of woede moes ek seker maak dit raak weg voor dit my en my kinders raak. Hy moes net altyd ‘n mooi prentjie na buite wees, die voorbeeldige, sterk een. ‘n Man met twee gesigte!

Ek is kwaad omdat ek maar altyd net n ander pad gekyk het, is ek kwaad omdat ek nooit ooit vir hom gesê hoe kwaad en teleurgesteld ek in hom was nie. Dit maak my kwaad dat ek altyd as die onstabiele een uitgemaak was en dat ek nooit reguit vir hom kon sê ek het nie meer respek vir hom nie. Ek kwaad oor die vernedering, die kommer oor oordraagbare siektes en verwerping wat ek elke keer maar moes deurwerk en verwerk asof dit niks was nie. Kwaad dat ek elke keer alles vir die wêreld weggesteek het omdat ek geglo het ons kan hierdeur werk en vandag weet ek dit was maar net ek wat alles moes verwerk, hy het net sy eie egosentriese lewe geleef. Dit maak my kwaad as ek dink hoe lank het ek toegelaat dat my bang vir James se woede en emosionele uitbarstings my lewe regeer. Hoeveel skade ek aan die kinders daardeur veroorsaak het nie. Hoe ek sy emosionele afbreek, woede en geweldadige manier van straf van die kinder probeer verduur het. Ek is baie jammer dat ek nie jare terug al besluit het om n pad weg van sy geweld, humeur en afbreek te loop nie.

Dit maak my hartseer om te dink ek het soveel drome en ideale gehad. Ter willle van James en die kinders het ek my drome en ideale laat gaan, om daar te wees in hulle aktiwiteite, nooit besef ek is besig om my eie identiteit te verloor nie! Dit maak my hartseer om te dink ek het al die jare hierdie masker lewe gelei terwille van my kinders en tog is die skade so groot in hulle lewens vnadag, was hulle tog maar al die jare bewus van wat aangaan. Soms voel ek jammer dat ek nooit veel eerder uit hierdie siek verhouding gestap het nie! Maar daar was tog ook mooi tye wat my soms laat voel het dis alles die moeite werd. Het ek maar geweet..

Vergifnis is die een ding wat ons almal byna elke dag sal doen solank ons leef. Vergifnis was nog altyd vir my ‘n pad van gesond word. Dit was my keuse. Maar ek weet vandag dat my vergifnis myself vrystel maar dat dit nie James kwytsteld van sy sonde nie tensy hy dit voor ons Vader bely.

Kolossense 3:13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

One thought on “My onthou pad … 1987

  1. Daardie ontnugtering, ongeloof, jy doen en tree op sonder om te dink. Later kan jy nie onthou hoe jy daar gekom het of wat jy gedoen het. Die woede binne jou en omdat jy so blind was en alles geglo het, want jy het dit nooit van hom verwag nie. Met hoeveel mense het dit al gebeur en dan kan ons net vra Hoekom en waarom? Wat het ek verkeerd gedoen? Jou gedagtes is in ‘n warboel en jy moet jouself met die grootste inspanning beheer om net normaal op te tree, maar eintlik wil jy gil en net uiting gee aan jou emosies. Nie nou nie. Dan kom al die gewonder en die legkaart word stuk vir stuk gebou in hierdie deurmekaar lewe wat jy net so eensklaps gevind het in ‘n koevert…. Die lewe is wreed

    Like

Leave a comment