Hoop vir die onmoontlike

sunflowerSoms wil ek my hakke so in grond inkap en die lewe stop! So hard dat ek eintlik ‘n voortjie in die grond wil ploeg net soos pappa se trekker Ombanje se rooi grond kon omploeg! Ek pleit ‘Here gee my net weer een normale dag. Net een! Niks maak meer sin nie!’

Saterdag tien Augustus en hier sit ek alweer op die lughawe, oppad na my Rykie kind. Soveel gelatenheid, onsekerheid, verwarring en seer in my. Die trane bly net loop oor my wange. Ek weet die mense sien en kyk verleë weg, maar ek kan dit eenvoudig net nie stop nie. Liewe Vader, ek het net nie meer plek om nog hierdie nuwe seer ook weg te bêre waar ander dit nie kan sien nie!

Op die vliegtuig sit ek tussen ‘n groep jong kinders wat bruis van die lewe, die totale teenoorgestelde van hierdie doodsheid in my! Die lugwaardin kom kniel by my en vra of ek ok is? Ok? Nee, Nee ek is nie ok nie wil ek uitroep! Ek voel of ek nooit weer ok gaan wees nie!  Ek skud net my kop dat ek nie wel is nie, want ek weet om te praat sal net die trane weer laat vloei. Sy bring vir my ‘n koppie tee, ‘n gebaar wat net die trane weer oor my wange laat loop! Met haar arms so om my sê sy ek moet onthou die Here sal nooit iets oor my pad bring wat ek nie kan hanteer nie!

Die afgelope maand of twee het ek nogals vir die eerste keer in vyf jaar gevoel ek is reg om weer te begin lewe. Ja ek weet ek lewe elke dag maar ek was reg om weer te begin lewe vir myself, gerus dat my Rykie kind op die gesond word pad is. Sy vorder so fantasties met die psigoterapie. Al wat ‘n toets word gedoen op my om te kyk of alles nog klop soos dit moet en sit waar dit moet sit! My stempel van goeie gesondheid gekry, een en vyftig en op geen pil! My begin op ‘n nuwe lewe!

Saterdag oggend ‘n week terug het ek ‘n dames ontbyt bygewoon. ‘n Heerlike ontbyt met ‘n inspirende praatjie deur Susan Coetzer wat met die smaak van Smarties verskillende emosies laat rond kuier het in jou mond en gemoed. Daarmee saam die gerustellende besef ek IS spesiaal vir die Here net soos ek is! Ek is geseend met ongelooflike vriende en vriendinne, amasing kinders en ‘n familie duisend! Paar mense kom na my tydens die onbyt en vra wanneer skryf ek weer ‘n stukkie vir hulle! Die oggend is ‘n bevestiging vir my oor Here se opdrag aan my om ‘n ondersteuningsgroep te begin vir mense met seer soos ek.

Nou, nou sit ek oppad na ‘n onbekende situasie, ‘n nuwe krisis met implikasies wat soos ‘n donker gat voor my voel. ‘n Krisis wat my laat voel ek het ‘n 100 jaar in een week geleef.

Net na ses Saterdag oggend het my foon gelui. Ek was vroeg op soos gewoontlik en antwoord opgewek sonder om regtig ag te slaan op tyd of te wonder wie so vroeg bel.  Die nommer wat flits op die foon se skermpie lyk totaal onbekend vir my. Dan my Rykie kind se stem in my ore! Rykie! Nog steeds dink ek alles is normaal en groet vrolik!   ‘MAMMA!’ huil my kind ‘mamma ons was gehighjack gisternag en hulle het my weer verkrag’. ‘Wat!’ Vra ek, ‘hoe is dit moontlik?’  Ongeloof en ‘n gevoel van onwerklikheid oorval my ‘Ag Here help’ my stille uitroep.  Huilend probeer sy vertel wat gebeur het.  ‘n Deurmekaar storie van ‘n geleentheid vir ‘n pel, van mense wat in haar kar geklim het, die hele nag met haar rond gery het en ook probeer het om dwelms in haar keel af te druk. Hoe sy daarin geslaag het om weg te kon kom van hulle!

Dit alles klink soos ‘n scene uit ‘n rolprent.  Alles voel soos ‘ n droom onwerklik. Een waarin ek nou nou gaan wakker word en besef dit was maar net alles deel van my nagmerrie!  Net ek IS wakker.  Niks, niks wil insink nie, niks wil sin maak nie! My brein staan stil, alles is stil in my, voel my ek hoor my hart in my ore!  Alles in my roep uit ‘Nee dit kan nie wees nie, ek hoor nie reg nie’. In hierdie paar minute flits ongeloof, verwarring en totale ontkenning deur my! Die een gedeelte van my probeer logies met myself redineer, probeer dit minder maak sodat my brein kan begryp wat my kind my vertel! Die ander gedeelte stom en lam van totale onbegrip van die omvang van hierdie krisis nou oor my pad gekom het.

Dan tree my organiserings brein in ‘Rykie Rykie raak nou rustig! Ek vlieg nog vandag na jou toe, ek sal jou nooit alleen los nie hierdeur nie. Dit moes ‘n verskriklike ervaring gewees het!’ Rykie se huil woorde ‘mamma ek voel so vuil, ek gaan nooit weer skoon kom nie!’ laat my ineen krimp, my onmag om die regte woorde te vind om my kind te troos frusteer my. Skielik flits Psalm 23 ‘Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my’ deur my, die Here se versekering Rykie was nooit alleen.  ‘Rykie onthou net hou daaraan vas dat selfs in jou donkerste angs oomblike vannag het die Here jou nooit alleen gelaat. Hierdie varke het dalk jou liggaam misbruik maar die Here het jou siel houvas my kind!  Bly glo net saam mamma, ons sal ook hierdeur kom. Hoe weet ek nie nou nie, maar ons sal aan die Here se hand houvas! Ek sal gou vir dominee Frans bel’.  Asof dit alles gaan weg toor!  Maar ek weet vanuit my trauma opleiding dat die eerste 24 uur baie belangrik is vir die ontlontings fase na so verskriklike ervaring. Vreeslik om te dink ek is opgelei en ek kan nie die regte woorde vind nie!

Na ek die gesprek onderbreek het sit ek vir n hele rukkie soos ‘n standbeeld op my bed. Ek het geen idee waar om te begin, ek kan nie eers huil nie! Uiteindelik besluit ek om my ma te bel, ek het skielik ‘n intense behoefte om by my ma te wees! Om net ‘n slag ook iemand te hê by wie kan ek sit en huil, huil oor hierdie seer wat ek moet help verwerk vir Rykie, myself en my ander kinders. Vir die eerste keer kan ek hardop huil en sê ‘ek kan nie meer nie Here. Hoeveel nog, hoekom weer Rykie?’ Ek het het haar nog altyd vertel sy gaan eendag ‘n groot motiverings verhaal hê vir ander mense, ‘n verhaal van hoop, vertroue en oorwinning. Was dit wat sy vir 9 jaar deurgemaak het dan nie genoeg, nie ‘n groot genoeg storie nie’. Weer fluister die Heilige Gees vir my ‘EK sal by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie’.

Dan begin die mense arriveer by my huis, my suster, my vriendin. Ek voel soos of daar dood is in my huis maar ek weet hierdie doodsgevoel is binne my! Die volgende uur word ‘n mallemeule van reëlings vir die vlug, die kinders se blyplek vir die week, hulle skool reëlings, my werk, telefoon oproepe van vriende en familie, sms’e en in tussen gooi ek ‘n paar klere in my tas. Nog kosbare vriende daag op om saam met my te bid voordat ek lughawe toe moet vertrek.

Ps 35: 17-18 Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af. Ek sal U loof in ‘n groot vergadering; onder ‘n groot skare sal ek U prys.

Ek onthou ‘n video Soul Surfer van Bethany Hamilton wat ek so tyd terug gesien het. Die grootste inspirasie vir my was haar vasberadenheid, onblusbare hoop, en geloof in God nadat ‘n haai haar arm afgebyt het op dertien. Wat uit gestaan het was tydens al die goas om haar vinning by die hospitaal te kry om haar lewe te red, was die paramedikus wat haar hand houvas het en in haar gefluister het ‘”God will never leave you or forsake you.”   Ek besef al waaraan ek nou kan vashou, Dat Hy my nie alleen deur hierdie krisis sal laat gaan nie.

Rykie ek glo ons kan ook hierdie tragedie omdraai om ‘n triomf. Hou vas aan die wete dat God jou liefhet en dat hy ‘n plan het vir jou lewe. Ons lewens is op die oomclik soos n weegskaal total ongebalanserd maar met geloof, hoop en baie liefde sal ons die balans gou weer vind.

Life may not be going well for you now, but as long as you are here, as long as you press forward, anything is possible. Hold on to Hope – Nick Vujicic

My porselein poppie…

Rykie toe ek gisteraand moeg en opgehuil in my bed klim, flits ‘n prentjie voor my oë. Ek onthou die Saterdagnag net na middernag toe jy gebôre is.

Die suster het my terug na my kamer gestoot, gewas , die kombers so styf om my vasgevou en met die opdrag ‘nou toe, kry jy nou ‘n ordentlike nagrus in, ons sal vir sussie besig hou vannag’ die lig afgeskakel. Met ‘n hart wat wou oorloop van geluk het ek weer met ‘n dankie Here vir my pragtige volmaakte poppie my oë so toegemaak en vir slaap ingewag. Maar net voor ek kon toegee aan slaap, flits die lig weer aan, die suster met jou in haar arms! ‘Jammer mammie maar hierdie dame dring daarop aan om jou te sien! Sy protesteer beslis teen ons flous van suiker water, ken konsuis die ware jakob!’ Hehe.. Ja jy was toe al ‘n dinamiese klein klein dametjie, wat geweet het wat sy uit die lewe wou hê!! Toe sy jou so in my arms neerlê en jy so met jou groot wakker blou oë in myne staar, het ons twee toe al geweet van hierdie pad wat ons eendag sou saam moes loop?

Rykie tydens gisteroggend se diens het die een boodskap so duidelik uitgestaan ‘dalk moet jy iemand vandag vergewe wat dit nie verdien nie of dalk moet jy jouself vergewe’. Ek het vir ‘n oomblik aan my en jou gedink. Jou sms’sie van nou die dag ‘ Mamma ek vergewe jou’ en hoe ek telke male ook vra ‘Rykie vergewe my dat ek nie wakker genoeg was nie’ Ek het nogals so weg gery en gedink ‘ek het vrede gemaak met myself, myself vergewe’ maar wat tog so huiwer op die randjie van my gedagtes is my vergifnis vir jou pa. Het hy my vergifnis verdien, hy wat geensin die begrip toon vir wat hy aangevang het nie. O, ek kan sien hy kry swaar, hy sê die lippetaal van jammerte maar waar is die opregte berou, die daad werklike pogings om te werk en heel te maak dit hy stukkend gemaak het. Jou my pragtige klein gebreekte poppie, sy ander emosionele gebreekte kinders.

Jou oproep gisteraand ‘Mamma help my, ek is ‘n emosionele wrak, ek kan nie ophou huil nie!’ het my onrus van die afgelope weke bevestig dat jy al weer op die afdraande pad is. Jou huil, jou gevoel van nikswaarde en die swaarste jou ‘wens’ om nie meer te wil lewe! Ek voel so magteloos, woedend, beangs en so hartseer tegelyk.  Verstaan iemand ooit regtig as ek sê ek voel soms soos ‘n woer-woer van emosies! My onmag om mense te kry om doen wat hulle so maklik sê. Here Ek het gesê ek het vrede gemaak, ek het gesê ek het vergewe maar Here as ek my kind so hoor huil, haar seer hoor dan wonder ek regitg ‘kan ek ooit vir James vergewe’?’ Daardie woorde uit haar mond van ‘ek is nikswerd! breek my hart stukkend. Here dan wil ek James aan sy skouers ruk, hom wakker ruk dat sy oë kan oopgaan vir dit wat hy op gemors het, wil ek berou amper in hom wurg!

Vanoggend word ek wakker met die beeld van ‘n stukkende porselein poppie, is dit jou beeld my liefste Rykie? Ja my gebreekte poppie maar Rykie ek sien net n pragtige jong dame met ‘n Godgegewe talent vir soveel sport, ‘n oneindige omgee vir ander en soveel liefde in haar. Weer kom gisteroggend se boodskap by my op ‘dalk moet jy vandag iemand vergewe wat dit nie verdien’! Gister het ek gewonder oor die boodskap vanoggend besef ek dit is soos Jesus vir my sorg. Ek moes weet Hy wag reeds vir my hier waar ek vandag deur my krisis van vergifnis gaan. Rykie ek besef, net Jesus kan jou heelmaak, weer PERFEK heelmaak! Geen mense woord of gom maar net Jesus kan jou weer perfek heel maak as jy Hom gaan toelaat en daarvoor vra! Rykie Mamma sal jou stut en ondersteuning wees, ek sal die salfies aansmeer, die drukkie in hartseer uitdeel, jou trane afvee as die eina te veel word en soms net saam met jou huil maar net Jesus kan ons weer heel maak.

Rykie my sonskynkind ek wil graag hierdie stukkie met jou deel, my gebed vir jou en my ander kinders, mag ons weer so dans van vreugde!

Soms het jou innerlike pyn ondraaglik geword, sê die Here. Ek smeer salf aan jou oop wonde. Jy het so op mense vertrou, maar hulle het jou bitterlik teleurgestel. Sommige van wie jy dit die minste verwag, het jou genadeloos in die rug gesteek. Maar Ek sal jou stukkende hart weer heel maak, sê die Here. Ek sal vir jou ‘n Vertroueling en Helper wees deur dink en dun. Jou hartsgeheime is veilig by My. Ek sal die jare wat die sprinkaan afgevreet het, vir jou teruggee … met rente. Jou hartseer sal in blydskap verander. Jy sal weer dans van vreugde. Ek sal dit vir jou waar maak, sê die Here. (Geskryf deur Hansie – Step Ministries)

My briefie in ‘n bottel….

Die woorde in ‘n televisie insetsel “‘n Vrou se rol in my lewe moet my lewe inkleur en ek sal haar lewe twee keer inkleur” het eendag my gedagtes vasgevang en laat wonder oor my ‘droom man’…. En my ‘n brief laat skryf!

Liewe toekomstige sielsgenoot,

Jou woorde ”n vrou se rol in my lewe moet my lewe inkleur en ek sal haar lewe twee keer inkleur” het my laat regop sit! En my laat besef hier is ‘n man wat ‘n vrou soos ‘n prinses sal behandel…. Iemand met ‘n positiewe ingesteldheid op die lewe wat met sy voete vas op die aarde staan, wat weet wat hy wil hê en waarheen hy op pad is. Iemand wat ‘n sagtheid uitstraal, ‘n man wat eerlik en opreg is, ‘n vrou soos ‘n prinses sal laat voel maar bowenal dat die Skepper vir hom belangrik is! Ek sou graag so ‘n sielsgenoot aan my sy wou hê om mee saam oud te word, dinge te beleef en baie lief te hê! Met wie ek my hart’s geheime. my lag en hartseer kon deel. ‘n Avontuur lustige persoon met ‘n fyn sin vir humor, en nes ek ‘n totale romantikus wat glo aan die liefde ondanks heelwat seerkry! Want ek glo ‘n Lewe sonder liefde is soos om nie te lewe nie!


Ek het op ‘n plaas groot geword in die Noorde van die ou Suidwes Afrika en die natuur en sy fasette ‘n groot liefde in my lewe. Daar was niks so mooi op ‘n laat namiddag met die laaste strale van die son so op die spelende grassade, die nat reuk van die aandlug, om in die volmaaktheid van nog kwynende dag die grootheid van die Here te ervaar! Een van die mooiste herrinering was kere wat my pa huis toe gekom het met ‘n veldblom uit sy “veld se tuin” spesiaal gepluk vir sy prinses! Ek het ‘n groot liefde vir die see met sy kalmerende effek, maar ook sy stiltes, waar ek kan stil word en God se hartklop hoor!

My ideale man is “imperfect”, doodgemiddeld, feilbaar, maar perfek vir my. In sy oë wil ek respek, liefde, lankmoedigheid, geduld, en soms misterie sien lewe. Hy is sag, liefdevol en sensitief. By hom wil ek veilig voel teen die aanslae van die lewe. Hy is my beste vriend, sielsgenoot en kameraad, saam kan ons pret hê, of dit in die kombuis is om saam ‘n dis aanmekaar te slaan of sommer net ‘n fliek te kyk of net musiek saam te luister. Hy laat soms die dogtertjie in my uit kom, laat my soms hard en uitbundig lag, en ek kan hom hart en siel vertrou en soms kan ek net in stilte langs hom sit om die mooi van die oomblik te geniet. Sy hande moet sag wees, sag soos die liefde, maar hard vir standvastigheid. Sy persoonlikheid straal sy trots uit op wie hy is, wat hy bereik het, waar hy vandaan kom en waarheen hy oppad is. Snags moet hierdie selfde lyf langs myne kom lepellê, sy arms my vashou en wanneer hy dit nodig het, wil ek dieselfde vir hom kan doen en hy my toelaat. Hy is ‘n opregte mens-mens, wat praat oor dinge wat hom pla, wat kan bemin met alles wat in hom is, maar ook kan kniel in stil gebed uit dankbaarheid, om saam ons Hemelse Vader te dien.

Wat my hart vinnger sal laat klop is as jou oë myne vasvang tussen ‘n groep mense en die kyk in jou oë ‘n storie vertel net vir ons bedoel! Die onverwagse vat van jou hand in die verby gaan wat sê ek is special! ‘n Romantiese piekniek met sondersondergang, gesels tot ounag toe onder die sterrehemel of op ‘n koue môre met ‘n beker koffie saam die son te sien opkom!

Die liedjie Ons Belofte aan Mekaar gesing deur Henri Stander uit Juanita du Plessis se pen” vertel van my droom, hoe ek graag saam met my sielgenoot sou wou oud word:

Twee spore wat dieselfde pad begin

Die saam besluit om een te wees

Lief te hê en getrou te wees

Met my hand styf in joune

Ek wil langs jou lê elke môre

Ek wil jou vashou elke nag

Onder sterre oor ons drome waak

En saam ons kinders groot te maak

‘n Wens, my laaste wens

Ek wil oud word saam met jou

Ek wil my lewe aan jou wei

Deur elke donker skadu en hoog bo teen die kranse

Sal ek volg waar jy my lei

Al is daar silwer in jou hare

En jou jare begin wys

Tot die dood ons eendag skei, sal ek jou lief hê

Want ek wil oud word saam met jou

‘n Leeftyd is nie genoeg nie

En vir ewig is te min vir my

Dis ‘n eindelose wentelbaan

Ek en jy en ‘n lewe saam vir nou

En een vir altyd

Ek wil oud word saam met jou

Ek wil my lewe aan jou wei

Deur elke donker skadu en hoog bo teen die kranse

Sal ek volg waar jy my lei

Al is daar silwer in jou hare

En jou jare begin wys

Tot die dood ons eendag skei, sal ek jou lief hê

Want ek wil oud word saam met jou

Liefdegroete

Jou toemkomstige sielsgenoot

Tyd van Maskers

Nog n dag van maskers…

‘n Masker vir die wêreld en masker vir my mooi dogter ter wille van haar gevoel van veiligheid en stabiliteit. In die dag ‘n masker om vir die wêreld die oneindige seer in my hart weg te steek alhoewel ek dit wil uitgil vir die wêreld van sy wandaad teenoor my kind maar ter wille van n proses moet geduldig wees!

Soms voel ek soos n vasgekeerde in n rotsstorting na n aarbewing!  Ek voel soms so vreesbevange dat ek kan nie asem kry, vasgevang en vasgeval in n reddelose hopelose situasie, maar terwille van my kinders rondom my moet ek my kop optel en normaal lyk, net snags as ek my kamer se deur toe trek kan ek huil en toegee aan die seer en pyn in my!

Die tyd wat hierop volg is soos een angswekkende rollercoaster, dokters, sielkundiges ,beraders, vrae, vrae, en nogmaals vrae! Daarmee saam my skuldgevoelens “waar was ek”, die mense se vrae help ook nie veel om dit minder te maak ‘het jy regtig niks geweet nie of hoe kon jy nooit iets opgemerk het nie’.

Die gevoel van hulploosheid en magteloosheid, Ag  Here as ek net geweet hoe en wat om volgende te doen.  Almal is so stadig! Niemand besef hoe dringend dit is nie! My hart wil breek as ek sien hoe swaar my kind kry en ek sien hoe sy voor my wegkrimp.  Sy is n mengsel van emosies wat wissel van woede, hartseer, eensaamheid, angs, senuweeagtig, bang, verwarring, en gevoelloosheid. Dit is so traumaties om te sien hoe sy probeer ‘cope’ noudat haar jarelange geheim bloot lê.  Dit maak my woedend as ek hoor hoe sy haarself blameer vir alles, om haar vrees te sien omdat sy glo hy gaan haar doodmaak as hy uitvind sy het gepraat.

Tog is die Here se gerustellende boodskap so duidelik  “Hou moed, moenie bevrees wees nie”  en kon ek saam sing met David Meece :In my Brokenness, In my hour of Darkness, I will lift my hands and Worship You. In my Brokenness, In my Time of Sadness I will lift my voice in Praise to You.”